Die Proteas se ster-aanvangskolwer, Laura Wolvaardt, het Vrydag goeie nuus vir krieketondersteuners gehad: Daar is 'n kalmerende invloed in hul geledere om groot te droom by die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland.
Daardie invloed? Hul instaan-kaptein, Suné Luus, wie se rustigheid in hul naelbytstryd teen Pakistan Wolvaardt Vrydag mateloos beïndruk het.
Die Suid-Afrikaners is ná twee WB-wedstryde steeds onoorwonne, danksy 'n gemaklike sege verlede naweek oor Bangladesj, opgevolg met 'n seslopie-oorwinning Vrydag oor Pakistan.
Die Proteas het 223/9 in hul 50 boulbeurte aangeteken, ná groot bydraes deur Wolvaardt (75) en Luus (62), maar het hul ondersteuners daarna laat naels kou deur die deur tot in die doodsnikke op 'n skrefie vir Pakistan oop te hou.
Die Asiese vroue was in die 38ste beurt op 144/3 mooi op koers na glorie, maar is terug gerem toe hulle drie vinnige paaltjies verloor het. Hulle kon die momentum wat hulle daar ingeboet het, nooit herwin nie, maar was nietemin nooit uit die wedloop nie.
Aan die begin van die laaste boulbeurt het hulle nege lopies benodig (met twee paaltjies staande) en het dit 'n uitmuntende vangkans deur Shabnim Ismail geverg om hul moed te breek.
"Ons was verbasend kalm gegewe die situasie, veral Suné," het Wolvaardt ná die wedstryd gesê.
"Soms sal 'n mens nie eens weet sy is op die krieketveld as jy na haar kyk nie. Sy lyk dieselfde as wanneer sy weg van die veld is - dis hoe rustig sy is.
"Dit maak almal anders rustig en dit gaan vorentoe noodsaaklik wees. Ons gaan móét kalm bly in die groot oomblikke wat nog wag."
Sake raak ook nou vir die Proteas moeiliker namate hul toernooi verloop, met een van die groot honde, Engeland, wat môre op hulle wag. Die Engelse het Suid-Afrika voorverlede week in 'n opwarmstryd geklop, maar die toernooi op 'n suur noot begin. Hulle het albei hul eerste wedstryde, teen Australië en die Wes-Indiese Eilande, verloor.





















