Chloé Tryon het Donderdag met 'n puik kolfbeurt die kastaiings vir die Protea-vrouekrieketspan uit die vuur gekrap in die eindstryd van die driehoekige T20-reeks.
Tryon het met 57 onoorwonne lopies van 32 balle (6x4, 2x6) Suid-Afrika gehelp om Indië met vyf paaltjies in Oos-Londen te klop.
Dit is Tryon, wat vereer is met die eerbewys as Speler van die Wedstryd, se eerste 50-tal in internasionale T20-krieket.
Indië het eerste gekolf en 109/4 in 20 boulbeurte aangeteken, waarna die Proteas (113/5) die wenlopies van die laaste bal van die 18de boulbeurt aangeteken het.
Die 29-jarige Tryon en Nadine de Klerk (17*, 17 b) se 47 onoorwonne lopies om die sesde paaltjie het die Proteas gehelp om te wen. Toe Annerie Dercksen (8, 11 b) haar paaltjie in die 14de boulbeurt verloor het en die Proteas op 66/5 was, het dit gelyk of Indië kan wen.
Maar Tryon wou nie so gou boedel oorgee nie.
Met die uitsondering van Tryon, Suid-Afrika se onderkaptein, en De Klerk het die ander kolwers in die tuisspan gesukkel om hul stempel af te druk.
Die eerste drie kolwers, Laura Wolvaardt (0, 9 b), Tazmin Brits (8, 15 b) en Lara Goodall (7, 11 b), was in die sewende boulbeurt reeds almal terug op die paviljoen.
Toe Goodall haar paaltjie verloor het, was Suid-Afrika op 21/3. Al drie daardie paaltjies is deur Indiese draaibalboulers geneem.
Die besoekers het ook in hul kolfbeurt, in toestande wat draaibalboulers bevoordeel het, gesukkel. Op 21/2 in die sewende boulbeurt was Indië in die knyp.
Dit was Nonkululeko Mlaba, draaibalbouler van die Proteas, wat van albei Indië se aanvangskolwers, Smriti Mandhana (0, 8 b) en Jemimah Rodrigues (11, 18 b), ontslae geraak het.

Harleen Deol (46, 56 b) was die besoekers se beste kolwer. Sy en haar spanmaats het gesukkel om grenshoue van die Suid-Afrikaanse boulers af aan te teken. Indië se enigste grenshoue in sy kolfbeurt was nege viere.
Mlaba was die Proteas se beste bouler. Sy het 2/16 in vier boulbeurte platgetrek.
Hoewel die Proteas in die algemeen goeie veldwerk gedoen het, was daar wel 'n blaps in die veld.
Ayabonga Khaka het in die 19de boulbeurt 'n vangskoot verbrou om van Deol ontslae te raak van die boulwerk van Shabnim Ismail.
Khaka het wel hiervoor vergoed toe sy Deol in die laaste boulbeurt geboul het.
• Intussen het Marizanne Kapp met 'n plasing op sosiale media vrese besweer dat sy nie in die T20-Wêreldbeker-toernooi, wat eerskomende Vrydag in Suid-Afrika begin, in aksie gaan wees nie.
Krieket Suid-Afrika (KSA) het deernisverlof aan haar toegestaan nadat Kapp se eggenote, Dané van Niekerk, vir die T20-WB oor die hoof gesien is.
Kapp bedank KSA in die plasing vir die geleentheid om Van Niekerk by te staan.
"Dit was nog altyd vir my 'n grootse eer om my land te verteenwoordig. Ek kan nie wag vir die T20-WB nie," skryf Kapp.





















