Protea-vroue

Windmakers en windeiers van SA se WB-veldtog

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Laura Wolvaardt was verreweg Suid-Afrika se beste kolwer in die toernooi. Foto: Getty Images
Laura Wolvaardt was verreweg Suid-Afrika se beste kolwer in die toernooi. Foto: Getty Images

Hulle het ons laat brul én laat brom in 'n toernooi waarin veral hul veggees netjies getoon is - maar uiteindelik was daar weer hartseer vir die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan oor 'n nederlaag in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi.

Nietemin kan 'n hele paar van hulle met hul kop omhoog van die vliegtuig klim wanneer hulle terugkeer na Suid-Afrika.

Kyk hier wie was windmakerig en wie was windeiers in Suid-Afrika se WB-veldtog.

Laura Wolvaardt 9/10

Een van Suid-Afrika se blinkste sterre in die toernooi. Dié 22-jarige het 433 lopies teen 'n gemiddelde van 54.12 aangeteken. Dat sy nie 'n 100-tal kon aanteken nie, is 'n jammerte, maar sy het vyf 50-talle in agt kolfbeurte behaal.

Lizelle Lee 2/10

Haar vertoning met die kolf was uiters teleurstellend. Sy het 'n hoogste telling van 36 in sewe kolfbeurte aangeteken. In vyf van daardie sewe kolfbeurte kon sy nie dubbelsyfers behaal nie. Haar gesukkel het ekstra druk op Wolvaardt, haar aanvangvennoot, geplaas.

Lara Goodall 5/10

Een van die Proteas se swak plekke was die nr. 3-plek op die kolflys. Goodall het later haar voete gevind en 49 lopies teen Indië aangeteken en 28 teen Engeland in die halfeindstryd. Die hou waarmee sy haar paaltjie teen die Engelse verloor het, was onverskillig en roekeloos.

Tazmin Brits 4/10

In Suid-Afrika se eerste wedstryd, teen Bangladesj, het sy die kolfbeurt in Lee se afwesigheid saam met Wolvaardt begin. Toe het sy agt lopies aangeteken. Daarna het sy in vier wedstryde speelkans gekry en op nr. 3 gekolf. Helaas kon sy net tellings van 2, 23, 18 en 1 aanteken.

Marizanne Kapp het met die kolf en bal vir Suid-Afrika uitgeblink. Foto: Getty Images
Marizanne Kapp het met die kolf en bal vir Suid-Afrika uitgeblink. Foto: Getty Images

Marizanne Kapp 9/10

Dit is beslis nie haar skuld dat die Proteas nie die eindstryd gehaal het nie. Sy het 12 paaltjies platgetrek en 203 lopies met die kolf bygedra. Teen Engeland in die groepwedstryd het sy vyf paaltjies platgetrek en teen onder meer Nieu-Seeland het sy met haar kolfwerk die Proteas van 'n sege help verseker.

Suné Luus 8/10

Die Proteas se kaptein was een van die span se beste spelers. Sy het 270 lopies in agt kolfbeurte aangeteken. Een van die grootste vrae rondom Suid-Afrika se veldtog is egter hoekom Luus haarself so min as bouler ingespan het. Sy het net 30 boulbeurte in die hele toernooi afgestuur - en nie 'n enkele een in die halfeindstryd nie.

Mignon du Preez 6/10

Toe Du Preez (52*) teen Indië die wenlopie van die laaste bal af aangeteken het, het sy almal daaraan herinner dat sy 'n speler vir die groot oomblik is. Teen die Windies het sy 38 onoorwonne lopies en teen die Engelse in die halfeindstryd 30 lopies aangeteken. Helaas het sy in haar eerste vyf kolfbeurte in die toernooi slegs tellings van 18, 0, 8, 1 en 14 aangeteken.

Chloé Tryon 6/10

As bouler kon sy slegs drie paaltjies in die toernooi plattrek. In die halfeindstryd teen Engeland het sy 70 lopies afgestaan sonder om 'n paaltjie te kry. Met die kolf was haar hoogste telling 'n effens beskeie 39 wat sy teen Bangladesj behaal het. Dit vertel egter nie die volle verhaal nie. Sy het as veldwerker uitgeblink. Teen Indië het sy byvoorbeeld twee goeie vangskote benut.

Trisha Chetty 7/10

Sy het tien vangskote in die toernooi agter die paaltjies benut. Teen Pakistan het sy 31 lopies met die kolf bygedra en teen Engeland in die groepwedstryd die wenlopie aangeteken. Sy het haar taak agter die paaltjies goed verrig.

Shabnim Ismail het met vuur en aggressie geboul en by tye die kolwers onder baie druk geplaas. Foto: Getty Images
Shabnim Ismail het met vuur en aggressie geboul en by tye die kolwers onder baie druk geplaas. Foto: Getty Images

Shabnim Ismail 9/10

Ook sy kan nie blameer word dat Suid-Afrika nie Sondag in die eindstryd speel nie. Sy was die Proteas se suksesvolste bouler met 14 paaltjies wat sy platgetrek het. Ismail het met vuur en aggressie geboul en male sonder tal kolwers laat bontstaan.

Masabata Klaas 7/10

Sy het nege paaltjies platgetrek in die ses wedstryde waarin sy gespeel het. Dit kon waarskynlik meer gewees het as van haar spanmaats nie vangskote verbrou het nie. Klaas was goed daarmee om spanne se kolwers onder druk te plaas met bestendige boulwerk.

Ayabonga Khaka 7/10

In Suid-Afrika se eerste kragmeting van die toernooi het sy uitgeblink deur vier paaltjies plat te trek. In totaal het sy 12 paaltjies in die toernooi geneem - dieselfde as Kapp. Haar lyn en lengte was nie altyd wat dit moes wees nie, maar sy het oor die algemeen haar rol goed vertolk in die Proteas se boulaanval.

Tumi Sekhukhune

Sy het te min speelkans gekry om haar te beoordeel. Sekhukhune het in twee wedstryde gespeel toe Klaas beseer is. Een daarvan, teen die Windies, is weens reën afgelas.

Nonkululeko Mlaba en Sinalo Jafta het nie speelkans in die toernooi gekry nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM