Proteas

Kry vir Proteas ‘n nuwe witbal-afrigter, sê Gibbs

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Mismoedige Rob Walter staan die media Vrydagaand by die Wanderers te woord ná die Proteas se rekordloesing teen Indië.Foto’s: gallo
’n Mismoedige Rob Walter staan die media Vrydagaand by die Wanderers te woord ná die Proteas se rekordloesing teen Indië.Foto’s: gallo

Die warm stoel raak al hoe warmer vir die Protea-witbal-afrigter Rob Walter, en verskeie oudspelers begin nou sy kop eis ná 'n rekordloesing teen Indië Vrydagaand op die Wanderers.

"Die tyd van Walter se vertrek moet naby wees. In ander lande sou die valbyl reeds geval het," sê die oudkolwer Herschelle Gibbs.

"Ons vaardighede het nie verbeter onder hom nie. Ons boulwerk is eendimensioneel. As plan A nie werk nie, moet jy tog 'n plan B hê. Ons het nie so 'n plan nie. Australië gebruik vroeg, eerder as laat, die streepbal-opsie. Maar ons verseg om dit te doen."

Indië het die Proteas Vrydag met 135 lopies in die vierde T20-wedstryd afgestof en die reeks met 3-1 beklink. Dit is Suid-Afrika se grootste nederlaag nog.

Sedert Walter verlede jaar as witbal-afrigter aangestel is, het hy die span tot 'n Wêreldbeker-halfeindstryd én 'n T20-WB-eindstryd gelei - Suid-Afrika se eerste eindstryd nog.

In bilaterale T20-reekse is Walter se rekord egter power. In sewe T20-reekse het hy ses verloor. Een reeks, teen Ierland, het met 1-1 gelykop geëindig. Die Proteas het in hierdie reekse 16 nederlae gely en net vier seges behaal.

Gevra of hy die druk voel, het Walter Vrydagaand aan joernaliste gesê: "Ek voel druk van niemand anders nie. Ekself ervaar die grootste druk omdat ek wil seker wees die span verteenwoordig die land goed."

Indië het in die onlangse reeks drie keer meer as 200 getimmer - 202/8 in Durban, 219/6 in Centurion en 283/1 op die Wanderers.

Aiden Markram met sy hande in sy hare.
Aiden Markram met sy hande in sy hare.

Vrydag het Sanju Samson (109, 56 balle, 6x4, 9x6) en Tilak Varma (120, 47 balle, 9x4, 10x6) gesorg vir 'n vennootskap van 210 om die tweede paaltjie. Van die 283 Indiese lopies is 206 met grenshoue aangeteken.

Gibbs sê Suid-Afrika se tekort aan opsies teen draaiers in die reeks was kommerwekkend. Die gewrigdraaier Varun Chakravarthy het 12 paaltjies teen 'n gemiddeld van 11.50 geneem.

"Daar moet gevra word of daar nie vars, jonger gesigte in die top-orde nodig is nie," vra Gibbs. "Reeza Hendricks se houespel is baie beperk in die kragspel. En Aiden Markram sukkel al geruime tyd."

Johan van der Wath, 'n oud-Protea-bouler, stem saam met Gibbs oor Walter se pos. Hy sê daar moet al meer vingers gewys word na die Protea-afrigtingspan.

"Walter se bestuursvaardighede is so swak dat hy nie die beste uit die spelers kan kry nie. Hy moet onder hewige druk begin kom, want die probleem lê by hom," sê Van der Wath.

Herschelle Gibbs
Herschelle Gibbs

Daar was die afgelope vier maande toenemend kritiek oor Walter nie sy beste spelers voortdurend inspan nie.

"Walter kruip weg agter die feit dat hy aan meer spelers blootstelling wil gee en gevolglik nie vir Kagiso Rabada, Heinrich Klaasen, David Miller en jou ander beste spelers gereeld speelkans gee nie. Dis 'n makkerige verskoning," sê Van der Wath.

Walter het Vrydagaand oor sy rotasiebeleid walgegooi: "Die werklikheid is party spelers word 'n blaaskans gegee voor die toetse omdat Suid-Afrika wil kwalifiseer vir die Toetskampioenskap-eindstryd," sê hy.

"Daarom laat ons spelers soos Kagiso rus. Terselfdertyd moet ons die net wyer span om meer spelers geleenthede te gee."

Johan van der Wath
Johan van der Wath

Gevra waarom die naatbouler Ottniel Baartman nie in die Indiese reeks gespeel het nie, het Walter gesê: "Dis omdat ons aan Lu­tho Sipamla en aan Nqaba Peter voor hom wil blootstelling gee. Dis 'n balanseertoertjie. Elkeen moet hul rol speel om die span te transformeer en dit meer verteenwoordigend te maak."

Van der Wath sê Walter moet ook pa staan vir die feit dat daar sulke vaardigheidstekorte soos die uiters slordige veldwerk op die Wanderers was, 40 wydlopers in die reeks, en dat boulers nie gereeld goeie rigting en lengtes gehandhaaf het nie.

Van der Wath het gevra hoe volhoubaar die posisie van Mar­k­ram en Hendricks nog boaan die orde is.

Pierre Joubert, 'n oud-Titans-kaptein, meen egter Markram is uiters talentvol, maar geestelik tam en het 'n blaaskans nodig.

"Hoe arrogant is ons nie dat ons nie ons beste spelers wil inspan teen die beste span ter wêreld soos teem Indië nie," sê Joubert.

"Die Indiese span se vaardighede was baie beter as Suid-Afrika s'n. Trouens, ons vaardighede was ligjare verwyderd van hulle s'n.

"Walter gaan al hoe meer onder massiewe druk kom."

Die Proteas speel van 10 tot 14 Desember in drie T20-wedstryde tuis teen Pakistan.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM