Proteas

Proteas nog nie ‘goed geoliede masjien’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die seëvierende Proteas nadat hulle die reeks teen Pakistan Maandag met 2-0 op Nuweland gewen het. Foto: Jaco Marais
Die seëvierende Proteas nadat hulle die reeks teen Pakistan Maandag met 2-0 op Nuweland gewen het. Foto: Jaco Marais

Die reekssege oor Pakistan sluit 'n uiters suksesvolle somer van krieket vir die Proteas af, maar hulle vuur nog nie op alle suiers nie.

So sê Temba Bavuma, kaptein van die Proteas, wat Pakistan Maandag met 10 paaltjies op die vierde dag van die tweede toets op Nuweland geklop het om die reeks met 2-0 te wen.

Dit was Suid-Afrika se sewende toets-oorwinning in 'n ry. Die span het reeds verlede maand vir die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap gekwalifiseer, waar hy in Junie op Lord's in Londen teen Australië te staan sal kom.

Ná Pakistan se merkwaardige opvolgbeurt van 478 lopies het die tuisspan Maandag 58/0 in net 7.1 beurte voor uitskeityd aangeteken om die tweede toets in vier dae te wen.

Ek dink dit sal skrikwekkend wees wanneer ons soort van op alle suiers vuur.

Bavuma het agterna gesê hoewel die Proteas dié somer vier tuistoetse gewen het, is hulle nie 'n "goed geoliede masjien" nie.

"Jy het in sekere fases van die toets gesien hoe ons die wedstryd te veel in die teenstanders se guns laat gaan het. Dit vat dan 'n vorm van briljantheid om sake om te keer. Wanneer jy teen topspanne speel, kan jy dit nie juis toelaat nie."

Bavuma sê 'n spesiale faktor wat die Proteas het, is hul vermoë om terug te veg.

"Die een ding vir my wat uitstaan, is ons vermoë om 'n manier te vind (om die uitklophou te plant). Maar ek dink as 'n span is ons steeds op 'n reis. Ek dink nie ons is naby daaraan om 100% te speel nie. Ek dink dit sal skrikwekkend wees wanneer ons soort van op alle suiers vuur."

Die veelsydige snelbouler Marco Jansen was die Speler van die Reeks. Foto: Jaco Marais
Die veelsydige snelbouler Marco Jansen was die Speler van die Reeks. Foto: Jaco Marais

Ná hul sege in die eerste toets in Centurion om vir die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap te kwalifiseer sou dit altyd 'n uitdaging vir die spelers op Nuweland wees om steeds op dieselfde standaard te speel, sê hy.

Bavuma is met dié sege steeds onoorwonne in toetse as kaptein.

Ons het 'n kans om iets spesiaal vir die land te doen.

Hy sê om vir die eindstryd in Junie op Lord's in Londen te kwalifseer is saam met sy buiging vir Suid-Afrika die hoogtepunte van sy loopbaan.

"Ons het 'n kans om iets spesiaal vir die land te doen. Een ding wat ek weet van die groep, is dat elkeen sal probeer om deur 'n baksteenmuur te hardloop om seker te maak ons is aan die regte kant van daardie uitslag."

Shukri Conrad, Protea-afrigter, sê die swoeg en harde werk vandeesweek op Nuweland was "die beste ding wat die somer met ons gebeur het".

Die boulers moes, anders as in van die ander toetse die seisoen, wérk vir hul paaltjies.

"Ek dink dit is goed vir die karakter van die span. Ek dink dit is goed in terme van die potensiaal wat voorlê wanneer ons in Junie Lord's toe gaan."

Die spankeuse vir die eindstryd teen Australië gaan 'n tameletjie wees, net soos dit ook met die afgelope toets op Nuweland was, sê Conrad. Die Proteas sal hulle deur die speeltoestande laat lei.

Die breier sê die span gaan probeer om vooraf moontlik in Engeland 'n toets teen Ierland of Afganistan te speel, wie ook al in daardie tyd beskikbaar is.

Conrad het ook gesê die snelbouler Anrich Nortjé sou in Centurion gespeel het as hy nie sy toon vooraf gebreek het nie. Dit was bemoedigend vir hulle dat Nortjé hom beskikbaar wou stel, sê Conrad.

• OORSIG EN TELKAART

• Vir nou is toetskrieket op die agtergrond, met die fokus wat verskuif na die opwindende SA20-reeks, wat Donderdag begin.

• Bykomende bron: SuperSport.com.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM