Die veelsydige Jason Smith gaan Woensdag in Sjarja sy buiging vir die Proteas in die eerste eendagwedstryd van drie teen Afganistan maak.
Die 29-jarige Smith het reeds sy T20-buiging vir Suid-Afrika gemaak. Hy het verlede maand in Tarouba in die T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande speelkans gekry.
Aiden Markram, waarnemende kaptein, van die Proteas, het die loot gewen en in die snikhete toestande besluit om te kolf.
Hy voer die span aan in die afwesigheid van Temba Bavuma, wat olik is.
Hashmatullah Shahidi, kaptein van Afganistan, sê hulle sou ook eerste gekolf het as hy die loot gewen het.
Afganistan het vier draaiers in sy elftal gekies.
• Suid-Afrika: Aiden Markram (k), Tony de Zorzi, Reeza Hendricks, Tristan Stubbs, Kyle Verreynne, Jason Smith, Wiaan Mulder, Andile Phehlukwayo, Bjorn Fortuin, Nandré Burger, Lungi Ngidi.





















