Proteas

TERUGBLIK: Proteas haal 2 Wêreldbeker-eindstryde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Verslae Aiden Markram ná die eindstryd van die T20-WB teen Indië op die Kensington Oval in Bridgetown, Barbados.  Foto: Getty Images
’n Verslae Aiden Markram ná die eindstryd van die T20-WB teen Indië op die Kensington Oval in Bridgetown, Barbados. Foto: Getty Images

Dit was hoogdrama op 29 Junie en 29 Desember in die Proteas se 2024-kalenderjaar.

In Junie het Suid-Afrika geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi te haal.

Die Proteas het met 'n merkwaardige agt agtereenvolgende oorwinnings in die skouspel in Amerika en die Karibiese Eilande die eindstryd gehaal waarin hulle toe op dramatiese en hartverskeurende wyse teen Indië verloor het.

Suid-Afrika het ses maande later, wéér ná 'n goeie oorwinningstog met ses agtereenvolgende oorwinnings, nóg 'n Wêreld-eindstryd gehaal. Die span het die eerste keer deurgedring na die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap wat in Junie op Lord's in Londen gespeel gaan word. Australië gaan sy teenstander daar wees.

Motorongeluk op Delhi-pad

Die T20-WB was een van baie eerstes vir Suid-Afrika. Soos om in New York op inlaaiblaaie te speel.

Dit was 'n nagmerrie vir die kolwers. Die Proteas het hul eerste drie wedstryde daar gespeel.

Die eindstryd op 'n erkende krieketveld, die Kensington Oval in Bridgetown, Barbados, was 'n naelbytstryd wat Suid-Afrika (169/8) in die sakkie gehad het voordat Indië (176/7) hom hartverskeurend met sewe lopies geklop het.

Suid-Afrika het 16 van die laaste beurt benodig nadat dit vroeër 30 van 30 was.

Suryakumar Yadav se vangskoot op die grenstou met die eerste bal van die laaste boulbeurt om van David Miller (21) ontslae te raak was 'n groot besprekingspunt.

Die paaltjiewagter, Rishabh Pant, se taktiek om behandeling te ontvang vir sy knie toe die Proteas 26 van 24 benodig het, was ook iets waaroor gemor is. Hy was in 2002 in 'n motorongeluk buite Delhi betrokke.

Heinrich Klaasen (52, 27 balle) was in daardie stadium besig om die wedstryd eiehandig vir Suid-Afrika te wen, maar is met die eerste bal ná die spelonderbreking deur die einste Pant agter die paaltjies gevang, wat ook 'n keerpunt was.

Pant het later in berigte erken hy het sy besering geveins in 'n poging om Suid-Afrika se ritme te versteur.

Die eindstryd was nietemin die Proteas se hoogtepunt van die jaar.

Kagiso Rabada was vir 'n ruk weer die voorste bouler op die toetsranglys.  Foto: Gallo Images
Kagiso Rabada was vir 'n ruk weer die voorste bouler op die toetsranglys. Foto: Gallo Images

Toetshelde

Suid-Afrika moes Nieu-Seeland aan die begin van die jaar weens die SA20-toernooi sonder sy gereelde toetsspelers die stryd aansê.

Ná die twee toetse teen die Kiwi's wat hy "prysgegee" het, het min hom 'n kans in die Wêreld-toetskampioenskap gegee.

Suid-Afrika het egter toe met ses agtereenvolgende oorwinnings - oor die Windies in Georgetown, Bangladesj in Dhaka en Tsjattogram, Sri Lanka in Durban en Gqeberha en Pakistan in Centurion - daarin geslaag om sy plek in die eindstryd te bespreek.

Suid-Afrika moes een van sy twee toetse teen Pakistan wen om deur te dring.

Hy het toe op senutergende wyse die eerste toets teen Pakistan op SuperSport-park met twee paaltjies gewen.

Die Proteas moes 148 in hul tweede beurt aanteken en het die vierde dag op 27/3 voortgesit. Dit het gelyk of Pakistan gaan wen toe Suid-Afrika van 96/4 tot 99/8 in duie gestort het.

Marco Jansen (16*) en Kagiso Rabada (31*) het egter met 'n onoorwonne 51 om die negende paaltjie Suid-Afrika se plek teen die Aussies in Junie op Lord's bespreek.

Agt verskillende kolwers - Aiden Markram, David Bedingham, Tristan Stubbs, Tony de Zorzi, Kyle Verreynne, Wiaan Mulder, Temba Bavuma en Ryan Rickelton - het met toetshonderdtalle uitgeblink.

Die voorslagbouler Rabada het in die reeks teen Bangladesj weer vir 'n ruk die voorste plek onder die boulers op die ranglys beklee.

Shukri Conrad, die toetsafrigter, het raakgevat met sy spankeuses, asook die plaasvervangers wat betrek is.

Suid-Afrika het met die instaanspan na Nieu-Seeland 30 spelers in 2024 in toetse ingespan.

Rob Walter, die Proteas se witbal-afrigter.  Foto: Gallo Images
Rob Walter, die Proteas se witbal-afrigter. Foto: Gallo Images

Witbal-treurmare

Suid-Afrika het onderskeidelik 24 spelers in eendagwedstryde en 31 in T20-wedstryde gebruik.

Afgesien van die T20-WB het Suid-Afrika gesukkel in sy witbalwedstryde. Hy was nooit op volsterkte nie.

Hy het net drie van sy nege eendagwedstryde gewen.

Afganistan het 'n geskiedkundige reeksoorwinning van 2-1 oor Suid-Afrika in die eendagreeks in September in Sjarja behaal.

Ierland het die Proteas daarna in Abu Dhabi ook met 'n eerste oorwinning in 'n T20-wedstryd laat bloos. Die Iere het ook een van die spanne se eendagwedstryde daar gewen.

Rob Walter, die afrigter, het die jaar onder groot druk afgesluit. Hy glo egter die span sal in Wêreldbeker-toernooie, wanneer dit regtig saak maak en wanneer hy weer op volsterkte is, tot sy reg kom.

Die volgende WB-toernooi is die toernooi om die Kampioene-trofee in Februarie en Maart in Pakistan.

Suid-Afrika sal, indien sy paadjie daar met dié van Indië kruis, bedag wees op "taktiek" soos Pant se pouse, of selfs 'n skouerloop.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM