Rivash Gobind, wat onder meer tyd in die kleedkamer van die Proteas, Afganistan en Zimbabwe deurgebring het, is die Titans se nuwe hoofafrigter.
Die Titans het Maandag aangekondig hulle het Gobind vir drie seisoene in die pos aangestel.
"Dis 'n eer om met die hoofafrigtersrol toevertrou te word van 'n span soos die Titans, wat 'n trotse geskiedenis van uitnemendheid en spelerontwikkeling het. Ek is opgewonde oor die uitdaging wat voorlê en is daartoe verbind om op die nalatenskap van sukses voort te bou," het Gobind (42) gesê.
Hy spog benewens sy krieketkwalifikasies (vlak 4-sertifikaat) ook met 'n meestersgraad in sakeadministrasie (MBA).
Hy neem die leisels oor van Mandla Mashimbyi, wat in November as die Protea-vroue se nuwe hoofafrigter aangestel is.
Richard das Neves, wat in Mashimbyi se plek waargeneem het, was ook op die kortlys van vyf kandidate.
Hy gaan in afrigtingstrukture van die Titans behou word.
'n Klompie buitelandse breiers, wat ook afrigters van Australië insluit, was onder die aansoekers.
Pierre de Bruyn, Namibië se afrigter, Richard Pybus, voormalige Titans-breier wat Pakistan, die Wes-Indiese Eilande en Bangladesj afgerig het, en Heinrich Malan, wat Ierland afrig, het ook die kortlys gehaal.
Gobind het as junior die Suid-Afrikaanse o. 19-span aangevoer. Hy was daarna aanvangskolwer van die Dolphins.
Hy het onder Lance Klusener begin afrig en het later ook die KwaZulu-Natallers bygestaan. Hy was daarna 'n hulpafrigter by die Warriors.
Gobind het Afganistan bygestaan en is verlede jaar deur Tanzanië aangestel. Hy was ook voorheen die Proteas se ontleder toe Mark Boucher die breier was, en was deel van die afrigtingspan van Durban's Super Giants in die SA20-toernooi.
Albie Morkel sal intussen aanbly as die Titans se hulpafrigter.
• Noord-Kaap het intussen ook verlede week sy onderhoude vir 'n nuwe afrigter voltooi.
Deon Carolus het waargeneem in die plek van Mark Charlton, wat as hulpafrigter van die Warriors aangestel is.
Carolus, Mduduzi Mbatha, Gordon Parsons, Daryn Smith en Gurshwin Rabie was op die kortlys.



















