T20-WB

Hardebaarde hou sleutel vir Proteas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Paar spelers in die geledere van Suid-Afrika en Indië het hul voete gevind in aanloop tot die T20-Wêreldbeker-eindstryd Saterdag in Bridgetown, Barbados.

Suid-Afrika se kolwers - wat die sleutel hou - het een ná die ander "herstel" ná die moeilike kolfblad in New York hul selfvertroue beduiwel het. Die meeste van die boulers het baljaar.

Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada kan in die eindstryd 'n bepalende rol vervul om die gevaarlike Indiese topkolwers in toom te hou. Die blits het stadig maar seker sy beste peil in die T20-WB-toernooi bereik en sy ondervinding kan Saterdag van groot waarde wees.Foto: Getty Images
Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada kan in die eindstryd 'n bepalende rol vervul om die gevaarlike Indiese topkolwers in toom te hou. Die blits het stadig maar seker sy beste peil in die T20-WB-toernooi bereik en sy ondervinding kan Saterdag van groot waarde wees.Foto: Getty Images

Die oplewing by die snelbouler Kagiso Rabada, met sewe paaltjies in sy laaste vier wedstryde, nadat hy aan die begin duidelik nie homself was nie, kan die Indiese kolwers onrustig maak. Selfs al ken hulle hom hóé goed van die Indiese Premierliga.

Die 29-jarige Rabada, in sy vierde T20-WB, het teen Engeland (2/32) en daarna in die halfeindstryd teen Afganistan (2/14) geborrel. Hy het weer vasberade ingehardloop - sy liggaamstaal sê alles.

David Miller het die afgelope week gesê "dis goed om te sien dat KG doen wat hy doen".

"Sy vertoning teen Afganistan was vir my regtig spesiaal. Hy was reeds met sy eerste bal op die merk."

Rabada het met twee paaltjies in sy eerste beurt op die blad wat die snellers gehelp het Afganistan in duie laat stort.

"In die groot wedstryde het jy jou groot spelers en senior ouens nodig om na vore te tree," sê Miller.

David Miller en Kagiso Rabada nadat die Proteas hul eerste T20-WB-eindstryd gehaal het. Foto: Getty Images
David Miller en Kagiso Rabada nadat die Proteas hul eerste T20-WB-eindstryd gehaal het. Foto: Getty Images

Hy sê dit help die span en druk die spelers in die regte rigting.

Die kaptein en aanvangskolwer Rohit Sharma is een van Indië se spelers wat sy spelpeil herwin het. Dit beloof 'n goeie tweestryd met Rabada.

Die 37-jarige het met beurte van 92 en 57 in sy laaste twee kragmetings met die gedugte Australië en Engeland 'n waarskuwing uitgestuur.

Suid-Afrika sal hoop dat sy aanvangsmaat, Virat Kohli, wat sukkel in die toernooi met 'n gemiddeld van 'n bietjie meer as 10, nie in die eindstryd ontwaak nie.

Kenners meen die uitslag sal egter deur Suid-Afrika se kolwers en Indië se boulaanval bepaal word.

Arshdeep Singh, Rabada se aanvangsmaat by die Punjab Kings, is met 15 paaltjies Indië se voorste bouler in die toernooi. Hy en Jasprit Bumrah hou gevaar in aan die begin, waarna die draaiers - met Kuldeep Yadav aan die spits - sake kan bemoeilik.

Suid-Afrika sal ná agt agtereenvolgende oorwinnings hoop om die hele pad te stap nadat hy oplaas die jare lange halfeindvloek in Wêreldtoernooie besweer het.

Indië, ook onoorwonne, sal onder druk van sy fanatiese ondersteuners wees.

Hy het die T20-WB in 2007 laas - met die eerste weergawe van die toernooi - in Suid-Afrika gewen en boonop in 2011 laas in die langer WB-toernooi oor 50 beurte tuis titelsukses geproe.

Spanne

Suid-Afrika (uit): Aiden Markram (k), Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, David Miller, Tristan Stubbs, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Ottniel Baartman, Gerald Coetzee, Bjorn Fortuin, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi.

Indië (uit): Rohit Sharma (k), Hardik Pandya, Yashasvi Jaiswal, Virat Kohli, Suryakumar Yadav, Rishabh Pant, Sanju Samson, Shivam Dube, Ravindra Jadeja, Axar Patel, Kuldeep Yadav, Yuzvendra Chahal, Arshdeep Singh, Jasprit Bumrah, Mohammed Siraj.

TV: Saterdag 16:30 (SS 201 en 212)

Wat gebeur as reën als in die wiele ry?

As die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi nie Saterdag of Sondag (die reserwedag) in Bridgetown, Barbados gespeel kan word nie weens reën of 'n nat buiteveld, sal die Proteas en Indië die titel deel.

Reënbuie word vir Saterdag asook Sondag by die Kensington Oval voorspel.

Bykomende tyd van 190 minute is beskikbaar as die eindstryd Saterdag deur reën onderbreek word. Die span wat tweede kolf moet minstens ook 10 beurte tot sy beskikking hê om dit 'n amptelike wedstryd te maak.

'n Superboulbeurt wag as die wedstryd gelykop sou eindig.

As die wedstryd nie Saterdag voltooi kan word nie, sal dit Sondag hervat word waar dit onderbreek is.

As daar Sondag ook nie 'n uitslag is nie, sal die trofee dan gedeel word. - Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM