T20-WB

Temba sê Proteas ‘terug op aarde’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, trek los in sy kolfbeurt teen Pakistan. Foto: Gallo Images
Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, trek los in sy kolfbeurt teen Pakistan. Foto: Gallo Images

Die manier waarop hulle geboul en veldwerk gedoen het nadat Pakistan met vier vroeë paaltjies in die knyp was, was erg teleurstellend.

So sê die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, nadat sy span Donderdag sy eerste T20-Wêreldbeker-nederlaag in vanjaar se toernooi in Australië gely het. Dié nederlaag in Sydney beteken nou dat Suid-Afrika selfs 'n plek in die halfeindronde kan misloop. Dít sal gebeur as hy Sondag teen die verwagting in teen Nederland verloor of as dié wedstryd deur reën gekelder word.

Pakistan het Donderdag in Sydney mooi herstel om 185/9 te kry nadat hy op 43/4 in die moeilikheid was.

Suid-Afrika se lopiejaagtog is ná nege beurte, met sy telling op 69/4, onderbreek. Ná die hervatting moes hy in 'n verkorte kolfbeurt 142 lopies in 14 beurte aanteken.

Pakistan het met 33 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-formule gewen nadat die Proteas tot 108/9 in hul jaagtog beperk is.

Bavuma het die feit betreur dat hulle Pakistan toegelaat het om ná die vroeë skade 'n goeie telling te kry.

"Dit (die nederlaag) is nie 'n bekommernis nie, maar ietwat van 'n wekroep. Ek het gedink ons was uitstekend in die eerste tien boulbeurte. Ons het hulle onder druk gehad, waarna die wiele skielik afgekom het," sê die kaptein.

Dis beslis nie die veldwerk waarop ons onsself roem nie.

"Die toestande het 'n bietjie verander met die bal wat anders begin deurskiet het. Ons (boulers) het nie gou genoeg daarby aangepas nie en het hulle toegelaat om momentum in hul kolfbeurt en toe ook 'n formidabele telling te kry."

Bavuma wys daarop dat 'n span soos Pakistan baie gevaarlik raak as jy hom snuf in die neus of enige momentum gee en dat hy daarop voortgebou het.

"Dis dalk die vertoning wat nodig was om ons terug aarde toe te bring."

'n Paar veldwerkblapse, veral toe Pakistan in die pekel was, het die wenspan ook gehelp om aan die gang te kom.

"Ek gaan nie hier sit en vir verskonings vir ons veldwerkvertoning soek nie. Ons veldwerk was tot en met die wedstryd baie goed. Ons het in die nag, in die dag en nat toestande veldwerk gedoen."

Hy dink van die spelers was nie geestelik waar hulle moes wees nie.

"Die foute wat gemaak is, is nie die soort foute wat jy op dié vlak wil maak nie - veral nie in hierdie deel van die toernooi nie. Dis beslis nie die veldwerk waarop ons onsself roem nie."

Bavuma sê David Miller (rugspasma) is as 'n voorsorgmaatreël aan hul 11-tal onttrek. Hy hoop dat Miller Sondag in Adelaide vir die laaste wedstryd reg sal wees.

Pakistan en Bangladesj speel net daarna op dieselfde veld.

Ek het dit net probeer geniet. Hopelik kan dit heelwat langer in die toernooi aanhou.

As Suid-Afrika (5 punte) se wedstryd uitreën, sal die wenner van Pakistan (4) of Bangladesj (4) hom uitskakel omdat hy dan meer oorwinnings as die Proteas sal hê. Indië (6) het ook reeds drie oorwinnings behaal en behoort ook in sy laaste groepstryd met Zimbabwe af te reken.

Shadab Khan het met kolf en bal vir Pakistan uitgeblink.

Hy het aan die einde van die kolfbeurt vir Iftikhar Ahmed (51, 35 b) goed bygestaan met 'n 50-tal van sy eie.

Dié draaier het sy warrelwind-beurt van 52 (van net 22 balle) met 2/16 opgevolg.

Bavuma, wat 'n lopiedroogte ondervind het, se 36 lopies van 19 balle was die beste onder die SA kolwers.

"Dis 'n rukkie sedert ek die bal in die middel getref het. Ek het vandag heelwat beter gevoel. Ek het gedink ek sien die bal nogal goed, dat ek beter besluite daar buite gemaak het en heelwat kalmer was," sê hy.

"Ek het dit net probeer geniet. Hopelik kan dit heelwat langer in die toernooi aanhou."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM