T20

Malan groet Rocks; VS koop groot

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Janneman Malan verlede jaar vir die Rocks in aksie.Foto: gallo images
Janneman Malan verlede jaar vir die Rocks in aksie.Foto: gallo images
Janneman Malan vir die Rocks in aksie. Foto: Gallo Images
Janneman Malan vir die Rocks in aksie. Foto: Gallo Images (Charle Lombard)

Die oud-Proteas Aaron Phangiso, Senuran Muthusamy en Janneman Malan is van die prominente spelers wat op pad is na groener weivelde nadat die plaaslike kontrakteringsvenster Maandag oopgemaak het.

"Hy was goed vir ons," sê Jacques Faul, Phangiso se uitvoerende hoof by die Titans. "Ons is op goeie voet uitmekaar en ons wens hom sterkte toe by die Knights."

Phangiso kan 'n dodelike draai-duo saam met Dane Piedt by die Knights vorm.

Dit is nog onduidelik waarheen Muthusamy, 'n veelsydige draaibalbouler, op pad is nadat sy kontrak by Noordwes klaargemaak het. Die Knights, wat wyd werf nadat hulle uit Afdeling 2 teruggeskuif het na Afdeling 1, is ook vir hom 'n opsie.

"Ons speel twee keer die naweek en ek is die span se kaptein. So, ek wil eintlik net daarop konsentreer. Hopelik sal daar meer duidelikheid teen Dinsdag of Woensdag volgende week wees," sê Muthusamy.

Volgens James Fortuin, die Rocks se uitvoerende hoof, het Malan en die Rocks se paaie met "wedersydse instemming" geskei. "Ons het onderling ooreengekom om Janneman se kontrak te beëindig. Ons skei op goeie terme - ons is lief vir hom - terwyl Pieter Malan hier by die provinsie sal aanbly."

Janneman kan óók Knights toe gaan.

Die drie provinsies wat die aktiefste in die mark is, is die Rocks, die Tuskers en die Knights. Fortuin het verlede naweek aan Rapport gesê hulle wil hul groep "verfris" en een van die kandidate wat dit kan doen, blyk Grant Roelofsen te wees. Dié paaltjiewagter-kolwer sal van die Dolphins af by hulle aansluit.

Ander skuiwe na die Rocks sluit in die Tuskers se Keith Dudgeon, 'n mediumsnelbouler en handige laermiddelorde-kolwer, en Aya Gqamane, wat waarskynlik op pad is Paarl toe nadat hy min speeltyd by die Titans gekry het.

"Grant en Keith het reeds geteken," bevestig Fortuin. "Ons hoop vir Aya, maar niks is nog geteken nie."

Blade Capel, die voormalige linksdraaier van Northwood, wat hierdie seisoen die meeste eersterangse lopies in Afdeling 2 by die Suidwestelike Distrikte se Badgers aangeteken het, vertrek Paarl toe. Die SWD se uitvoerende hoof, Albertus Kennedy, het die skuif bevestig.

Dis glad nie verbasend dat die Tuskers spelers bloei nie. Hulle is gerelegeer ná 'n power seisoen op spel en weg van die speelveld. Spelers wat hulle waarskynlik gaan verloor, sluit in Yaseen Valli, wat op pad is na die Badgers, en Tian Koekemoer en Stefan Tait, wat Kimberley toe trek om by die hoogaangeskrewe afrigter van die Noord-Kaap, Mark Charlton, aan te sluit.

Nog 'n Badgers-nuweling sal Lifa Ntanzi wees, wat 'n paar seisoene gelede sy pad by die Dolphins byster geraak het. Ntanzi was een van die vinnigste boulers in die reeks voordat hy sy spelpeil verloor het.

Verdere Knights-aanwinste sluit in Noordwes se Lesego Senokwane, asook die Noord-Kaap se Johan van Dyk. Rapport verneem Grant Thomson, nog 'n Noord-Kapenaar, keer terug na Oostelikes om nader aan sy familie te wees.

Daar is in die vroeë fase van die kontrakteringsperiode oor die kragtige slaner Evan Jones gepraat, maar pleks van om die Lions te verlaat, het hy besluit om geheel en al uit vierdagkrieket te tree. Hy gaan daarop fokus om 'n T20-huursoldaat te word. Nog spelers wat uitgetree, het, sluit in die oud-Protea-kolwer Pite van Biljon, wat weens bloedklonte halt geroep het, en die 36-jarige aanvangskolwer-strydros Grant Mokoena.

Benewens Phangiso, kan die Titans ook die dienste van Simon Harmer (35) kwyt wees.

"Simon wil graag vir ons meerdag-krieket speel, maar sy skouer lol nogal, so ons is onseker of hy kom," sê Faul.

Weber van Wyk, Harmer se agent, het by navraag gesê die speler doen steeds diens vir Essex, en is beskikbaar om vir die Proteas te speel.

Aaron Phangiso  Foto: Gallo Images
Aaron Phangiso Foto: Gallo Images

Selfs sonder Phangiso en Harmer is die Titans nie bekommerd oor hul draaiboul-spens nie. "Ons het die jong talentvolle draaier Schalk Engelbrecht, en Neil Brand tree al hoe sterker na vore as linksdraaier. Tabraiz Shamsi kan in alle formate - vierdag-krieket inkluis - vir ons speel," sê Faul.

Engelbrecht is een van vyf jong spelers wat beloon is met 'n hoëprestasie-kontrak by die Titans. Die naatbouler Modiri Litheko, en die voormalige SA o. 19-spelers Merrick Brett, Lu-handre Pretorius en Steve Stolk is die ander.

Die Titans is tans nog aan die onderhandel met 'n paar internasionale spelers as versterkings vir wanneer die unie in die T20-Uitdaagreeks sonder SA spelers soos Heinrich Klaasen, Aiden Markram, Dewald Brevis en Quinton de Kock sal moet klaarkom.

Luke Alfred en Fanie Heyns

CTA