T20

Titans oorkom kolfineenstorting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Aaron Phangiso  Foto: Gallo Images
Aaron Phangiso Foto: Gallo Images

Die Titans het Vrydag in Potchefstroom'n kolfineenstorting oorkom teen die Warriors om 'n vyfde sege in ses wedstryde in die provinsiale T20-uitdaagreeks te behaal.

Dit het in 'n stadium gelyk asof die Warriors se 119/7 genoeg gaan wees, maar die Titans het aan die einde 123/8 met nog drie balle oor gekry.

Van houe waarmee die Titans paaltjies verloor het, het veel te wense oorgelaat. Hulle het op 58/3 in die negende beurt eensklaps tot 77/8 gesteier met die draaier Tsepo Ndwandwa (2/25) en naatbouler Ziyaad Abrahams (2/22) wat elk twee paaltjies laat kantel het.

Dayyaan Galiem (29*) en Junior Dala (14*) het egter kop gehou om die wa sonder enige verdere skade deur die drif te kry.

Die Titans se draaiers Aaron Phangiso (4/23) en Simon Harmer (2/12) het vroeër die beste met die bal gevaar.

Harmer het vroeg toegeslaan waarna Phangiso met drie paaltjies in die 19de beurt op sy vorige beste boulsyfers verbeter het.

Die Warriors het met die val van die derde paaltjie met die laaste bal van die tiende beurt 54/3 gehad.

Al drie dié paaltjies is deur draaiboulers geneem.

Jordan Hermann (27) en Matthew Breetzke (26) het 44 om die vierde paaltjie aangeteken en hul paaltjies in die 18de en 19de beurt onderskeidelik verloor toe hulle moes langsteel inlê.

Die Titans kon met die sege hul voorsprong vergroot en is seker van 'n plek in die uitspeelronde. - Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM