Die Titans het met twee seges die naweek vierde in T20-uitdaagreeks geëindig om hul plek in die halfeindstryd te bespreek.
Die verdedigende kampioen het die Lions Vrydag in Centurion met 'n loslopie met die laaste bal met twee paaltjies geklop.

Die Titans se laaste wedstryd teen die Westelike Provinsie Sondag op Nuweland was toe 'n "kwarteindstryd" omdat die wenner vierde sou eindig.
Die Lions, Warriors en Dolphins was voor Sondag se laaste ronde van wedstryde reeds in die halfeindronde.
Die WP is Sondag tot 113/9 beperk waarna die Titans met 114/4 in 13.2 beurte met 'n bonuspunt gewen het.
Kyle Verreynne (48, 31 balle) is die enigste kolwer wat vir die tuisspan goed gekolf het.
Die WP het aan die begin gesukkel waarna Junior Dala (3/13) die tuisspan van 88/4 tot 97/7 in agtereenvolgende beurte in duie laat stort het.
Hy is goed bygestaan deur Corbin Bosch (3/21) wat ook drie paaltjies laat kantel het.
Die jong aanvangskolwer Lhuan-dré Pretorius het die Titans met 52 van 32 balle vroeg in hul jaagtog op koers gehad.
Die Lions (136/3 in 17.3 bbe) het eerste geëindig met tien seges uit 14 wedstryde nadat hulle die Tuskers (132/9) met sewe paaltjies in Johannesburg geklop het.
Die Warriors, wat aan die begin hul eerste agt wedstryde gewen het, het met 'n vierde agtereenvolgende nederlaag 'n tuishalfeindstryd verloor toe hulle Sondag teen die Dolphins vasgeval het.
Daryn Dupavillion (5/20) het die Warriors Sondag tot 130/8 in Gqeberha beperk. Die Dolphins het met 131/3 in 17.2 beurte verbygesteek om die tweede plek by hulle oor te vat.
In Sondag se ander wedstryd het die Dragons (149/4 in 19.5 bbe.) die Rocks (145/3) met ses paaltjies in die Paarl geklop om sesde te eindig.
Die Lions speel Woensdag op die Wanderers teen die Titans in die eerste halfeindstryd, waarna die Dolphins en die Warriors Donderdag op Kingsmead herontmoet.









