Menings

Hanri Wondergem: Mexiko gee dalk ook antwoorde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Franco Colapinto waai vir die skare in Austin, met Alex Albon op die agtergrond.Foto: X
Franco Colapinto waai vir die skare in Austin, met Alex Albon op die agtergrond.Foto: X

Verlede week het Formule Een (F1) ná 'n "herfsvakansie" van vier weke teruggekeer na die renbaan met baie vrae.

Om die Baan het gewonder of die Amerikaanse Grand Prix (GP) antwoorde gaan verskaf.

  • Hier is die vrae wat verlede week gevra is: Het die Red Bull-span genoeg skouer aan die wiel gesit in die vakansie om hul prestasie op die renbaan te verbeter en vir Max Verstappen weer te laat wen?) Het die Haas-span nuwe energie danksy sy nuwe vennoot, die Japanse motorvervaardiger Toyota? Gaan Haas sy tuisveldvoordeel gebruik om te presteer?) Hoe gaan Liam Lawson vaar in sy tweede F1-ren? Gaan hy sy spanmaat klop of minstens byhou?) Gaan die blitsren-formaat die puntelyste behoorlik deurmekaarkrap? Die GP in Austin het nie verlede naweek teleurgestel nie. Inteendeel, daar was 'n menigte hoogtepunte.

Charles Leclerc het 'n foutlose oorwinning behaal en 'n Ferrari- een-twee-einde gelei saam met sy spanmaat, Carlos Sainz. Leclerc het vierde weggetrek, maar hy het die voortou geneem in die openingsronde en dit deur die hele wedren behou.

Lewis Hamilton was hande in die hare nadat sy Mercedes vroeg in die ren van die baan gegly en in die gruis beland het. Sy spanmaat, George Russell, kon daarin slaag om sesde te eindig ten spyte van sy wegspring uit die kuipe.

Die nuweling Franco Colapinto het tiende in sy Williams geëindig en net-net die vinnigste ronde misgeloop wat deur Alpine se Esteban Ocon behaal is.

Inderdaad opwindend, maar is verlede week se vrae beantwoord? Ja!

Red Bull se harde werk oor die vakansie was duidelik - Verstappen het eerste weggetrek in die blitsren en hy het die blitsren gewen.

Die harde werk kon egter nie vir hom die boonste plek op die podium in die GP verseker nie, maar wel die derde plek.

Haas het 'n baie goeie naweek in Austin gehad met albei renmotors wat punte kon kry in die blitsren en Nico Hulkenberg wat ook punte gekry het in die GP.

Lawson het toe heel goed gevaar - hy het negende geëindig in die GP en 'n punt vir sy span aangeteken. In die proses het hy sy spanmaat, Yuki Tsunoda, wat 14de was, geklop.

Die blitsren het nie werklik die puntelys deurmekaargekrap nie - Verstappen kon wel danksy die blitsren die gaping tussen hom en Lando Norris, wat in die tweede plek op die puntelys lê, bietjie rek.

Dis nou voorwaarts na die GP in Mexiko die naweek en nuwe vrae het reeds opgeduik.

Gaan die skare hul landgenoot, Sergio Pérez, aanmoedig om met sy Red Bull 'n podiumplek los te jaag?

Kan Alex Albon sy nuwe spanmaat, Colapinto, se vinnige opgang ietwat stuit?

Colapinto het in die laaste twee GP's vir Albon ore aangesit (in teenstelling met Albon se vorige spanmaat, Logan Sargeant, wat in die pad gesteek is omdat hy nie die mas kon opkom nie).

Gaan Red Bull, McLaren of Ferrari eerste oor die wenstreep jaag?

Dit gaan vir seker die moeite werd wees om tot skuins voor middernag (die GP begin môre om 22:00) voor die kassie te wees om te kyk of jy kan antwoorde kry.

* Wondergem is Beeld se dag­redakteur en verknog aan F1.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM