As hierdie blaaie kon praat . . . wel, hulle kan seker, nè?
Sport-Rapport sê vandag 'n papier-totsiens, maar ons sien julle almal van 12 Januarie af weer op Rapport se landingsblad op Netwerk24. Voor dan, groet ons met 'n paar staaltjies oor van die groot geeste wat dié blaaie oor die dekades heen volgeskryf het.
Dis nié 'n bom nie!"
Voor die tyd van skootrekenaars was jou draagbare tikmasjien jou enigste skryfgereedskap wanneer jy op toer was", vertel Bokkie Gerber, Rapport se sportredakteur van 1995 tot 2007.
"Berigte is op telegrampapier getik en ingedien by die poskantoor, wat dit dan na Rapport getelegrafeer het. Phil Zaayman, Rapport-sportredakteur en rugbyskrywer destyds, was in 1981 saam met Wynand Claassen se Springbokke op toer in Nieu-Seeland. Dit was die toer van mega-betogings, met die Bokke wat in sportkleedkamers en muurbalbane moes slaap om van die aggressiewe betogers weg te kom.
"Op 'n kol kon hulle darem weer by 'n hotel inboek. In die geharwar in die hotel se voorportaal met die inboek, sit Zaayman sy tassie met die tikmasjien daarin by die toonbank van die hotel- ontvangs neer, en kies pad kroeg toe vir 'n koue bier.
"Met sy terugkeer na die voorportaal, tref hy 'n vreeslike gedoente aan, met 'n werklike bomb squad wat 'n vermoedelike bom uit die voorportaal verwyder, en opgeblaas het om dit onskadelik te stel.
"Zaayman se tikmasjien was weg. Die tikmasjien was toe al die tyd die vermoedelike tasbom wat die Nieu-Seelandse polisie gevind, en to kingdom come toe opgeblaas het!"
Gebruik maar gerus ons foon
"Telefone by sportstadions was vir Rapport-verslaggewers 'n noodsaaklikheid om op 'n Saterdagmiddag wedstrydverslae voor saktyd deur te kon bel, met 'n tikster wat die teks op velletjies papier getik het," vertel Gerber.
"Met rugbytoetse het Rapport 'n hele span stadion toe gestuur - soveel as vier skrywers en vier fotograwe. Hoewel Rapport by feitlik elke groot veld in die land 'n permanente telefoonlyn gehad het, moes 'n tweede telefoon met toetse by die poskantoor aangevra en deur hulle geïnstalleer word.
"Soms is die aansoek vir 'n tweede foon nagelaat. Met die Rapport-span se aankoms by die persbank, en die besef dat daar 'n foon te min is, is vinnig bespied watter ander publikasie meer as een foon het, en sonder dat hulle dit kon merk, is die een foon se ID-papiertjie bloot uitgehaal, omgedraai, ‘Rapport' is daarop geskryf, en teruggesit.
"En met 'n bietjie gekroek van die speelveld af het Rapport se skrywers spertyd gehaal. Beleef is dan agterna aan die ander publikasie gesê hulle kan maar Rapport se foon gerus ook gebruik!"
Skoonseun en slakkepas-Kepler
"In Sport-Rapport se destydse sportrubriek Boela Vermaak is daar draak gesteek met alles wat met sport te make het. Sportmense en -baadjiedraers is met spitsvondigheid aangevat as daar 'n omstrede rokie êrens getrek het," vertel Gerber.
"In die dae toe Louis Luyt Suid-Afrikaanse rugby regeer het, en omstredenheid hom soos sy skaduwee gevolg het, was Rian Oberholzer die ou SA Rugbyvoetbalunie (Sarvu) se uitvoerende hoof. Luyt was ook sy skoonpa.
"Tot groot ergernis van Oberholzer het Boela hom herdoop tot ‘Skoonseun'. Ondanks sy protes het hy strykdeur sy tyd in die pos Skoonseun gebly.
"So ook was die voormalige Protea-krieketkaptein Kepler Wessels ewe geïrriteerd met Boela oor dié se alewige gekerm oor sy stadige kolfwerk. Soveel so, dat hy op die SA span se toer na Australië in 1992 met erns kapsie gemaak het oor die harde tyd wat Boela hom in Rapport gee.
"Hy het selfs gedreig om nie weer met Rapport te praat nie as Boela voortgaan om hom oor sy slakkepas-kolfwerk uit te haal. Met 'n van soos Vermaak, het Boela egter by sy storie gehou."
Maar Dok . . .
"Dok Craven en Rapport het 'n lang pad saam geloop, maar die goeie en meestal vriendelike verhouding het ook sy eienaardige knorrige oomblikke opgelewer. Veral as dit Maties sou raak," onthou Gerber.
"Die jaar toe Bellville Rugbyklub die WP se Groot Uitdaagbeker wen - 'n trofee wat die Maties byna jaarliks verower het - is hul triomf met beker-foto's en 'n stewige dosis brêg in Sport-Rapport aangebied.
"Die Sondagoggend lui my huisfoon. ‘Ja, hallo!' bulder daardie effense breistem van Dok in my oor. ‘En,' gaan hy sommer net voort, ‘waarom maak Rapport nou só 'n bohaai oor Bellville se wen,' trap hy my uit. ‘Uhhh, maar Dok . . .' probeer ek iets sê, maar hy gee my nie veel van 'n gaping nie. ‘Ja, toemaar,' hoor ek hom sê, en toe is dit ook koebaai."

Só word Argentyne die Poemas
"Carl Kohler, wat vir langer as 30 jaar vir Rapport oor boks en rugby verslag gedoen het, het 59 jaar gelede die landskap van Argentynse rugby verander," vertel Pieter (Bommie) Kruger, oudsportjoernalis van Business Day en jare al 'n vryskut by Rapport.
"In 1965, toe Argentinië se rugbyspan die eerste keer deur Suid-Afrika en die destydse Rhodesië getoer het, het Kohler vir Die Transvaler verslag gedoen.
"Kohler is deur sy sportredakteur versoek om 'n noemnaam vir die Argentyne uit te dink. Kohler het op Izak van Heerden, die oud-Natalse maestro wat deur Dok Craven afgevaardig is om Argentinië te help afrig, se knoppie gedruk. Só is daar op Poema(s) besluit nadat die embleem bekyk is. Daar was een probleem . . . die embleem op die truie en baadjies was dié van 'n jaguar en nie 'n poema nie.
"Dit is eers in 2023 amptelik reggestel toe die jaguar deur 'n poema as embleem vervang is."
‘Oom was seker nie 'n slot nie'
"Johan van Wyk was jare lank een van Rapport se mees gevierde atletiekskrywers en sportredakteur voordat hy in 2016 aan 'n hartaanval op kantoor dood is," vertel Kruger.
"Johan het vroeg in sy loopbaan ook soms verslag oor rugby gedoen. Hy was aan die korterige kant, net sowat 1,65 m lank en hy het nooit meer as 70 kg geweeg nie. Jo, soos almal hom geken het, het op 'n dag verslag gedoen oor 'n wedstryd van Tuks in die Carltonbeker-liga.
"Hy het gemeld dat Louis Moolman (die massiewe Springbok-slot) drie of vier lynstane afgestaan het omdat hy en sy haker se lyne gekruis was. Soos die toeval dit wou hê, het Noord-Transvaal die volgende Woensdagmiddag 'n wedstryd teen Oos-Vrystaat in Bethlehem gespeel.
"Moolman het destyds nog voltyds studeer en moes vroeg die Woensdagoggend 'n belangrike eksamen skryf en kon dus nie saam met die span reis nie. Mools het gevra of hy 'n saamrygeleentheid met Neil Steyn (Hoofstad), Van Wyk en 'n fotograaf kon kry. Hy het nie 'n woord op die hele rit gerep nie en net vir Van Wyk aangegluur. Toe die groepie in Betlehem aankom, sê Mools hy wil iets van sy bors af kry.
"Hier kom dit, het Van Wyk gedink . . . ‘Oom het seker nie baie slot gespeel nie,' is al wat Moolman gesê het."

Met vonkelwyn in die jacuzzi
"Ek het kort voor die Wêreldbeker in 2007 by Rapport se sportredaksie, onder leiding van Rudolph Lake, aangesluit," vertel De Jongh Borchardt, deesdae werksaam in SA Rugby se kommunikasiedepartement.
"JJ Harmse en Louis de Villiers het die toernooi in Frankryk gaan dek en as junior was my taak op Saterdagaand 20 Oktober om ná die eindstryd kommentaar te kry by oud-Bokke.
"Ek het deur die week 'n paar manne gekontak en die onderhoude gereël - die wedstryd was immers laat en 'n mens kan nie net enigiemand ná middernag bel nie. 'n Paar van my teikens was bereikbaar, maar 'n paar het te lekker feesgevier en was nie in staat om sinvolle kommentaar te lewer nie.
"Verál een oud-Bok, 'n lid van die 1995-span, wat in daai stadium met 'n glas vonkelwyn in 'n jacuzzi gesit het!
"Gelukkig het iemand op kantoor gefokus - vermoedelik Rudolph - en was daar darem 'n paar koue biere vir ons ook, want selfs al moet 'n mens somtyds tot laat in die aand werk, is 'n Springbok-oorwinning in 'n WB-eindstryd iets wat gevier móét word."





