Menings

Tinus van Staden: Proteas wys weer bulterriër-moed

Die SJN-verslag, Omikron, gedugte teenstanders, 'n beseerde sleutelspeler, geen wedstrydoefening nie, 'n skok-uittrede ná 'n groot nederlaag in die eerste toets, 'n stewige vierdebeurt-teiken in twee toetse . . . Dit is veilig om te sê alles wat moontlik kon, het teen Suid-Afrika getel in hul toetsreeks teen Indië.

En wat doen die Proteas? Hulle staan hardnekkig op en wen die reeks met twee spoggerige jaagtogte in die vierde beurt van die toetse in Johannesburg en Kaapstad. Bitter min mense het hulle 'n kans gegee om dit reg te kry, maar hulle het nie omgegee nie.

Alles in ag genome is die reekssege met 2-1 oor Virat Kohli se indrukwekkende Indiese span een van die vyf beste reeksoorwinnings wat Suid-Afrika nóg behaal het. Mark Boucher, die hoofafrigter wie se kop om verskeie redes voor die reeks geëis is (en dalk in sekere oorde steeds), sê self so. En hy weet waarvan hy praat, hy was immers deel van die beste Protea-spanne nog, wat reeksoorwinnings in Engeland, Australië, Indië en Pakistan behaal het.

Indië het onlangs vir die eerste keer in Australië gewen en is met 2-1 voor in 'n wegreeks teen Engeland, wat verlede jaar weens Covid-19 onderbreek is, met een toets wat nog gespeel moet word. Indië het in elk geval vroeër reeds 'n reeks in Engeland gewen.

Suid-Afrika is dus steeds die enigste land waar die Indiërs nié 'n reeks kon wen nie. Dit is ook verstaanbaar dat almal gesê het dié reeks is hul beste kans om daardie boksie af te merk.

Die vorige keer wat Indië hier was, kon Suid-Afrika op AB de Villiers, Faf du Plessis, Hashim Amla, Vernon Philander en Morné Morkel peil trek. Sedertdien het hulle almal uitgetree en die span is sonder veel wêreldsterre. Selfs toe was dit nie 'n maklike oorwinning vir Suid-Afrika nie.

Die eerste toets van dié reeks was vir alle praktiese doeleindes reeds aan die einde van die eerste dag gewonne. Suid-Afrika se boulers, wat in Junie laas toetskrieket gespeel het, was verroes en Indië is toegelaat om die dag op 272/3 af te sluit. Die Protea-kolwers moes ook eers die spinnerakke afspeel en het in hul eerste beurt op 32/4 gesteier. Die skokuittrede van Quinton de Kock het die druk verder laat toeneem.

Indië het boonop nog nooit op die Wanderers verloor nie. Daarom was die besoekers die gunsteling om die reeks daar te beklink. 'n Beter boulvertoning, 'n skitterskof deur Kagiso Rabada, goeie kolfwerk deur Keegan Petersen en 'n hardnekkige jaagtog, gelei deur Dean Elgar, het die Proteas oor die wenstreep gekry.

Tog was Indië steeds die gunsteling vir die beslissende toets. Toe doen die Proteas dit so wraggies weer. 'n Teiken van meer as 200 lopies in die vierde beurt.

Wie sou dít voor die reeks kon voorspel? Die Proteas het slegs die vyfde span in die geskiedenis geword wat twee keer in 'n reeks meer as 200 suksesvol kon aanteken vir 'n sege.

Al het die Proteas nie meer 'n De Villiers of 'n Amla nie, het nuwe helde na vore getree in 'n reeksoorwinning wat 'n volslae spanpoging was.

Marco Jansen (19 paaltjies teen 16.74 lopies per paaltjie) en Petersen (276 lopies teen 'n gemiddeld van 46) was die vondse van die reeks. Rabada (20 paaltjies teen 19.05) het sy mojo herontdek. Elgar het gewys wat in hom steek as kaptein. Temba Bavuma was bestendig goed met die kolf, Lungi Ngidi was strykdeur 'n bedreiging met die bal en Rassie van der Dussen het twee belangrike beurte gespeel. Hopelik kry Boucher ook die krediet wat hy verdien. Die span is besig om sy bulterriër-DNS aan te neem.

Alles is nog nie klopdisselboom nie - die span moet in sy eerste beurt ook kan kolf soos in die tweede beurt, en honderdtalle ontbreek steeds. Aiden Markram en Duanne Olivier se peil is 'n bron van kommer.

Die toer na Nieu-Seeland in Februarie gaan 'n groot uitdaging wees, maar die terugkeer van Anrich Nortjé sal die span versterk.

Vir eers kan Protea-ondersteuners feesvier. Dit was 'n onvergeetlike terugveg-sege. Kom ons hoop nou net die Proteas maak ons nie weer seer met die hoop wat ons opnuut in hulle belê nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM