Lando Norris het Saterdag sy skuld aan sy McLaren-spanmaat vereffen deur hom die Formule Een-blitsren in Katar te laat wen.
Oscar Piastri het dieselfde vir hom in die blitsren in Brasilië gedoen. Hoewel Piastri kon gewen het, het hy Norris in opdrag van die spanbestuur laat wen.
In daardie stadium was Norris nog in 'n hoopvolle stryd om die kampioenskap met Max Verstappen (Red Bull) gewikkel.
Verstappen het egter die volgende dag sy voet neergesit en in die Grand Prix vanaf die 17de wegspringplek 'n belangrike oorwinning behaal. Dit het hom in 'n baie sterk posisie geplaas en hy het verlede naweek - in Las Vegas op die derde laaste byeenkoms van die seisoen - die kampioenskap vir 'n vierde keer gewen.
Piastri se sege Saterdagmiddag is daarom van akademiese belang. Norris het dit suiwer ter wille van die spangees gedoen.
Die twee jaers het ook nie juis oorgeloop van vreugde nadat hulle uit hul geel renmotors geklim het nie. Die McLaren-spanbaas, Zak Brown, het omtrent die breedste van almal geglimlag.
Norris het gemaklik vir die voorste wegspringplek in die blitsren gekwalifiseer op dié baan wat deur die meeste jaers as die heel vinnigste ter wêreld beskou word. Hy het goed weggespring en die voortou maklik behou.
Piastri, wat in die derde plek moes aantree, is kort ná die wegspring by George Russell verby. Dié Mercedes-jaer het tweede vinnigste gekwalifiseer en sy spanmaat, Lewis Hamilton, sewende.
Norris is gedurende die ren gevra om vir Piastri te wag en hom op sleeptou te neem om hom uit Russell se kloue te hou. Laasgenoemde het aggressief aangeval, maar die twee McLaren-jaers het daarin geslaag om die twee voorste plekke te verdedig. Ná die laaste draai het Norris stadiger gejaag sodat Piastri hom net voor die eindstreep kon verbysteek. Dit was die jong Australiër se tweede naelren-oorwinning.
Die twee Ferrari's, met Carlos Sainz en Charles Leclerc agter die stuur, was vierde en vyfde, gevolg deur Hamilton. Verstappen, wat tydens die kwalifisering tot die sesde plek gerelegeer is, het swak weggespring en agtste geëindig.
Wat die dubbele oorwinning wel vir McLaren beteken, is dat dit hulle 'n voorsprong van 30 punte in die vervaardigerskampioenskap bo Ferrari gee. Dit is die enigste 2024-titel wat nog nie opgeëis is nie.
Indien hulle Sondag daardie voorsprong in die Grand Prix met nog 14 punte laat toeneem, wen hulle die kampioenskap. Dit is onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie.
• TV: Sondag 18:00 (SS 201, 215).






















