Olimpiese Spele

Aftelling voor Parys-Spele het begin

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Tony Estanguet, Parys 2024 se Spelehoof, Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee, en die ster-atleet Usain Bolt hou die Olimpiese fakkel vas tydens ’n toer Dinsdag langs die Seine.  Foto: Getty Images
Tony Estanguet, Parys 2024 se Spelehoof, Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee, en die ster-atleet Usain Bolt hou die Olimpiese fakkel vas tydens ’n toer Dinsdag langs die Seine. Foto: Getty Images

Oor presies 'n jaar, op 26 Julie 2024, sal die Olimpiese Spele in Parys met 'n skouspelagtige seremonie op die Seine geopen word, maar verskeie uitdagings staar die organiseerders steeds in die gesig.

Veiligheidskwessies

Organiseerders sal hoop en bid daar is nie volgende somer 'n herhaling van die onluste wat vroeër vandeesmaand oor Frankryk heen gewoed het nie. Die oproer het uitgebreek nadat 'n polisiebeampte 'n 17-jarige seun doodgeskiet het.

Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), het vandeesmaand gesê hy is seker die Parys-Spele sal in " 'n vreedsame omgewing" plaasvind, selfs al het dele van die Franse hoofstad, waar die Spele volgende jaar aangebied word, kwaai deurgeloop tydens die onrus.

"Ons let daarop dat die oproer geensins met die Olimpiese Spele verband gehou het nie," sê Bach.

"Die groot steun van die burgers van Frankryk vir die Olimpiese Spele is tasbaar. Ons is vol vertroue dat die Olimpiese Spele in 'n vreedsame omgewing gehou sal word."

Skaduwee van die oorlog in Oekraïne

Met geen einde in sig vir die oorlog in Oekraïne nie, is die vraag of Oekraïense en Russiese deelnemers sy aan sy in Parys kan meeding.

Tony Estanguet, hooforganiseerder van Parys 2024, en die atleet Usain Bolt poseer Dinsdag tydens 'n mediatoer langs die Seine met die Eiffeltoring in die agtergrond. Foto: Getty Images
Tony Estanguet, hooforganiseerder van Parys 2024, en die atleet Usain Bolt poseer Dinsdag tydens 'n mediatoer langs die Seine met die Eiffeltoring in die agtergrond. Foto: Getty Images

Die kwessie bly 'n sensitiewe aangeleentheid.

Oekraïne se minister van sport het met 'n Spele-boikot gedreig indien Russiese deelnemers toegelaat word, maar baie potensiële Olimpiërs van Oekraïne stem nie met dié standpunt saam nie.

Bach se instruksies aan internasionale sportfederasies dat Russiese sportlui en hul Belarussiese bondgenote toegelaat moet word om aan kwalifiserende byeenkomste deel te neem is wel deur Oekraïense sportlui gekritiseer.

Bach meen om Russiese atlete te verbied om deel te neem weens hul regering se dade kan hul menseregte skend.

"Dit lyk vir my asof die hele sportgemeenskap skreeu dat Russiese atlete geen plek op die Olimpiese Spele het nie en Bach ignoreer die mening van die meerderheid hardnekkig," het die hekkiesatleet Anna Ryzhykova aan AFP gesê.

As Rusland wel in Parys deelneem, sal dit beslis as 'n "neutrale span" sonder amptelike spankleure wees.

Unieke openingseremonie

'n Weergalose openingseremonie op die Seine sal die Spele inlui.

Die Seine, wat die "verhoog" gaan wees waarop die skouspelagtige openingseremonie van die 2024-Olimpiese Spele in Parys gaan afspeel. Foto: Getty Images
Die Seine, wat die "verhoog" gaan wees waarop die skouspelagtige openingseremonie van die 2024-Olimpiese Spele in Parys gaan afspeel. Foto: Getty Images

Die seremonie sal nie soos gebruiklik in 'n tradisionele stadion plaasvind nie. Die spanoptog sal op die rivier gehou word, met spanne wat op 115 bote op die Seine vaar met die Eiffeltoring en ander bakens in die Franse hoofstad as agtergrond. Sowat 500 000 toeskouers sal die skouspel langs die rivier dophou.

Tony Estanguet, hooforganiseerder van die Spele, beskryf dit as een van die uitsonderlike kenmerke van Parys 2024.

Die aard van die seremonie lei ook tot groter uitdagings wat veiligheidsmaatreëls betref. Veiligheidsmagte het onder meer gewys op die gevaar wat hommeltuie inhou.

Ondersoek na die organiseerders

Die plaaslike reëlingskomitee het in Julie opspraak verwek toe die polisie sy kantore deurgesoek het as deel van 'n ondersoek na die toekenning van kontrakte vir die Spele.

Die wonings van étienne Thobois, uitvoerende hoof van Parys 2024, en Edouard Donnelly, operasionele hoof, is ook deurgesoek.

Die ondersoek sal nie verhoed dat die Spele voortgaan nie, maar is 'n verleentheid.

Die reëlingskomitee sê hy is een van die beheerliggame in Frankryk wat aan die strengste ouditvereistes en noukeurige ondersoeke onderwerp word en dat daar geen bewyse van enige ongerymdhede is nie.

Die aftelling voor die 2024-Spele, wat oor 'n jaar in Parys afskop, het ook in Nieu-Seeland begin. David Liti, Marcus Daniell, Hugo Inglis en Megan Hull is van die sportlui wat die geleentheid Woensdag in Auckland, Nieu-Seeland, bygewoon het. Foto: Getty Images
Die aftelling voor die 2024-Spele, wat oor 'n jaar in Parys afskop, het ook in Nieu-Seeland begin. David Liti, Marcus Daniell, Hugo Inglis en Megan Hull is van die sportlui wat die geleentheid Woensdag in Auckland, Nieu-Seeland, bygewoon het. Foto: Getty Images

Vervoer onder druk

Terwyl deelnemers in toegewysde Olimpiese bane van die Speledorpie na die sportstadions en venues vervoer sal word, sal toeskouers waarskynlik groter vervoerprobleme hê in 'n stad wat al reeds met swaar verkeer worstel.

Daar is ook groot druk om die verlenging van die 14-metrospoorlyn wat die Speledorpie in Saint-Denis, noord van Parys, met die Stade de France verbind, betyds te voltooi.

Jean Castex, voormalige Franse eerste minister wat in beheer is van die Paryse vervoeragentskap RATP, het egter gesê dié lyn sal in Junie 2024 voltooi wees.

Lughawens staal hulle ook vir 'n toename in reisigers. Sowat 85 000 atlete en beamptes sal akkreditasie vir die Spele kry en baie sal opdaag met groot bagasie - soos fietse en kajakke wat uniek aan Olimpiërs is. - AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM