Hartverskeurend! Die Blitsbokke se aanslag om die goue medalje op die Olimpiese Spele het Saterdag teen Frankryk in die halfeindronde tot 'n einde gekom.
Die Franse het Suid-Afrika met 19-5 in Parys, Frankryk, geklop.
Vroeg in die wedstryd in 'n nat Parys het die Franse balbesit gehad, maar toe vinnig-vinnig die bal aangeslaan. Maar kort ná die skrum het die Blitsbokke 'n strafskop afgestaan.
Albei spanne het 'n paar foute gemaak. Suid-Afrika het byvoorbeeld die bal 'n slag swak aangegee en die Franse het die bal skeef by 'n lynstaan ingegooi.
Toe duik Ryan Oosthuizen 'n Fransman naby die tuisspan se doellyn dat hy hik en die bal spat los, met Suid-Afrika wat die ingooi by die skrum kry. Ongelukkig kon die Blitsbokke nie die geleentheid in punte omskep nie, omdat die Franse goed verdedig het.
Toe die fluitjie vir die rustyd geblaas het, was die telling steeds 0-0.
Vroeg in die tweede helfte het Frankryk Antoine Dupont van die plaasvervangersbank af opgestuur. 'n Vinnige tikskoppie deur die Blitsbokke toe 'n strafskop aan hulle toegeken is, het uitgeloop op 'n drie deur Tristan Leyds in die hoekie.
Kort daarna het Rayan Rebbadj onder die pale vir Frankryk gaan druk. Hy het sy eie drie verdoel om die telling 7-5 in die Hane se guns te maak.
Net oomblikke daarna het Ronald Brown 'n drie gekeer, maar die Franse het weer gaan druk met minder as 'n minuut se speeltyd oor.
In die doodsnikke het die wenspan sy derde drie gedruk.
Die Blitsbokke speel nou om 19:00 teen Australië in die uitspeelwedstryd om die bronsmedalje. Die Franse en Fidji sal sake om 19:45 in die eindstryd uitspook.
• Puntemakers: Frankryk 19 (0): Drieë: Rayan Rebbadj (2), Jordan Sepho. Doelskoppe: Rebbadj (2).
Suid-Afrika 5 (0): Drie: Tristan Leyds.



















