Die Olimpiese naelloop-kampioen in die 100 m, Marcell Jacobs, sê hy mik daarna om sy tegniek te verbeter en om vinniger te hardloop op vanjaar se Olimpiese Spele in Parys.
Jacobs het die toeskouers Saterdag in Rome rasend van opgewondenheid gehad toe hy weer die 100 vir mans op die Europese atletiekkampioenskappe gewen het.
Dié Italianer, wat twee goue medaljes op die 2021-Tokio Spele (100 en 4x100-aflos) gewen het, het stadig begin, maar sterk geëindig in 'n tyd van 10.02 sekondes.
Die 29-jarige Jacobs het sedert die Tokio-Spele met verskeie beserings gesukkel en het byna twee jaar laas die 100 in minder as 10 sekondes gehardloop.
Hy het verlede jaar sy bande met sy afrigter, Paolo Camossi, geknip en word deesdae in Jacksonville, Florida, deur die Amerikaner Rana Reider afgerig.
"Ek het gedink ek kan 9.95 hardloop. Ek het dit nie reggekry nie, maar die belangrikste ding was om te wen," het Jacobs gesê.
"Ek het nie hierheen (Rome) gekom op my beste peil nie, maar dit was een van my doelwitte dié seisoen om hier te wen.
"Ek is weer die Europese kampioen. Dis regtig ongelooflik hier met die mense wat my naam die hele tyd uitskreeu.
"So, ek is bly vir die oorwinning, maar nie oor die tyd nie. Nou moet ek werk, werk, werk en my tye en my tegniek verbeter vir die Olimpiese Spele."
Die atletiekkompetisie op die Parys-Spele begin op 1 Augustus en eindig op 11 Augustus. - Reuters





















