Olimpiese Spele

Saskok kies 2de groep vir Parys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Olimpiese roeier John Smith. Foto: Reg Caldecott
Die Olimpiese roeier John Smith. Foto: Reg Caldecott

Die voormalige Olimpiese roeikampioen John Smith is op pad na sy vierde Olimpiese Spele.

Die 34-jarige Smith, wat in 2012 in Londen in die viere saam met James Thompson, Matthew Brittain, en Sizwe Ndlovu die Olimpiese roeititel verower het, sal in die pare-afdeling 'n boot met Christopher Baxter deel.

Hy sluit hom aan by die swemmer Roland Schoeman, wat al aan vier Spele deelgeneem het.

Nog 'n swemmer, Chad le Clos, is ook op pad na sy vierde Spele.

Voorts sal Henri Schoeman, wat op die Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro, Brasilië, 'n bronsmedalje in driekamp verower het, in die Franse hoofstad die derde keer aan 'n Olimpiese Spele deelneem.

Die driekampatleet Henri Schoeman. Foto: Getty Images
Die driekampatleet Henri Schoeman. Foto: Getty Images

Hezekiél Sepeng, wat in 1996 in Atlanta, VSA, die eerste swart Suid-Afrikaner geword het wat met 'n medalje op 'n Olimpiese Spele kon spog - silwer in die 800 m vir mans - is een van die spanbestuurders van die atletiekspan.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), wat in die proses is om sy naam na Sport Suid-Afrika te verander, het die name van 'n tweede groep sportmanne en -vroue bekend gemaak wat aan die Spele gaan deelneem.

Benewens roei en driekamp is die name van nog spanlede in atletiek, boogskiet, fietsry, skerm, hokkie en sewesrugby (vroue) aangekondig.

Aangesien daar in sommige sportsoorte nog tyd is om te kwalifiseer, sal die name van 'n derde groep einde vandeesmaand bekend gemaak word.

Die Blitsbokke kry dié naweek in Monaco 'n laaste kans om seker te maak hulle gaan ook Parys toe.

Die Spele begin amptelik op 26 Julie en duur tot 11 Augustus.

Die eerste groep deelnemers se name is reeds in Mei bekend gemaak.

Suid-Afrika hoop om op die atletiekbaan in die Stade de France medaljes in sowel die 4x100 m- en 4x400 m-aflos te verower. Altesaam 12 atlete is hiervoor gekies.

Wayde van Niekerk, wêreldrekordhouer in die 400 m en Olimpiese kampioen in dié item in 2016, sal onder meer aan die 4x400 m-aflos deelneem, en die naelloper Akani Simbine aan die 4x100 m-aflos.

Barry Hendricks, president van Saskok, sê Suid-Afrika sal op die Spele in 15 sportsoorte verteenwoordig word.

Hy het ook nuwe aansporingspryse vir medaljewenners aangekondig.

Indien 'n Suid-Afrikaanse aflosspan, hokkiespan of rugbyspan 'n goue medalje sou verower, sal elke spanlid en die afrigter R100 000 elk betaal word, R75 000 vir 'n silwermedalje en R50 000 vir 'n bronsmedalje.

Indien Smith en Baxter 'n goue medalje in roei sou verower, sal hul elk R200 000 verdien, en hul afrigter, Tiago Loureiro, R100 000. Dit word R100 000 en R50 000 vir 'n silwermedalje en R40 000 en R20 000 vir 'n bronsmedalje.

Deelnemers aan individuele sportsoorte soos atletiek en swem sal met R400 000 vergoed word vir 'n goue medalje en hul afrigter met R100 000.

Dit is onderskeidelik R200 000 en R50 000 vir 'n silwermedalje en R75 000 en R25 000 vir 'n bronsmedalje.

2DE SA GROEP VIR SPELE:

Die name van die tweede groep sportlui wat deur Saskok bekend gemaak is, is:

Atletiek:

Mans: Shaun Maswanganyi (200 m, 4x100 m), Francois Prinsloo (diskus), Elroy Galant (marathon), Akani Simbine (4x100 m), Bayanda Walaza (4x100 m), Bradley Nkoana (4x100 m), Benjamin Richardson (4x100 m), Wayde van Niekerk (4x400 m), Lythe Pillay (4x400 m), Zakithi Nene (4x400 m), Gardeo Isaacs (4x400 m), Antonie Nortjé (4x400 m).

Reserwes: Sinesipho Dambile, Adrian Swart.

Spanbestuur: Jean Verster, Hezekiél Sepeng, Paul Gorries, Maritz Coetzee, Samuel Sepeng, Mike Mbambani, John Smit, Neil Cornelius.

Boogskiet:

Mans: Wian Roux.

Afrigter/bestuurder: Patrick Roux.

Pluimbal:

Vroue: Johanita Scholtz.

Afrigter/bestuurder: Dillan Schaap.

Fietsry:

Mans: Ryan Gibbons (pad), Jean Spies (baan), Alan Hatherly (bergfietsry).

Vroue: Ashleigh Moolman-Pasio (pad), Tiffany Keep (pad), Candice Lill (bergfietsry), Miyanda Maseti (BMX).

Bestuur: Ciska du Plessis-Austin, Nicole Shuttlewortth, Benedict Moqumo, Barry Austin, Jean-Pierre Jacobs, Tyler Klumper, Brigitte Mileson.

Skerm:

Mans: Harry Saner (épée).

Afrigter/bestuurder: Guennadi Tychler.

Roei:

Mans: John Smith, Christopher Baxter (pare).

Afrigter/bestuuder: Tiago Loureiro.

Sewesrugby:

Vroue: Liske Lategan, Ayanda Malinga, Shona-Leah Weston, Kemisetso Baloyi, Zintle Mpupha, Sizophila Solontsi, Mathrin Simmers, Nadine Roos, Elizabeth Janse van Rensburg, Veroeshka Grain, Marlize de Bruin, Maria Tshiremba, Byrhabdre Dolf, Shiniqwa Lamprecht, Zandile Masuku, Eloise Webb.

Bestuurder: Mokgatjane Leseke, Renfred Dazel, Cecil Afrika, Obakeng Molopyane.

Driekamp:

Mans: Henri Schoeman, Jamie Riddle.

Vroue: Vicky van der Merwe.

Bestuur: Riana Robertson, Lindsey Parry.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM