Suid-Afrika se deelnemers moet die aandag trek en uitstaan met hul nuwe spandrag vir vanjaar se Olimpiese Spele in Parys, Frankryk.
So het Nozipho Jafta, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), vroeg Maandagaand by Maropeng in die Wieg van die Mensdom naby Krugersdorp gesê waar die nuwe spandrag vir die Suid-Afrikaanse Olimpiese en Paralimpiese span bekend gestel is.

Die spandrag is kleurryk met dans en musiek bekend gestel en talle lede van die Olimpiese span was teenwoordig.
Onder hulle was die swemmers Pieter Coetzé en Erin Gallagher, die hekkiesatleet Marioné Fourie, die hokkiespeler Robyn Johnson, Rights Mkhari (vroue-sewesrugby) en die Paralimpiese swemmer Kat Swanepoel.
Die Spele se openingseremonie is op 26 Julie langs die Seine in die Franse hoofstad. Die Paralimpiese Spele vind ná die Olimpiese Spele plaas.
"Dra jul sportdrag met trots en gee jul beste vir jul land. Doen dit vir jul land," was Jafta se boodskap aan die Olimpiese en Paralimpiese spanne.
"Ek hoop die kleredrag sal ons deelnemers help om 'n waardevolle ervaring by die Spele te hê."
Sy sê daar is ná 'n lang proses op die kleredrag besluit wat deur die sportklere-maatskappy Mr Price Sport gemaak is.
Elke spanlid sal 'n tas vol klere kry wat vir elke geleentheid bedoel is - van die openingseremonie tot oefengeleenthede en deelname.
Omdat snikhete weer met die Spele in Parys verwag word, is die klere só ontwerp dat dit die spanlede "koel en droog" sal hou, het Philippa Feher, bemarkingshoof van Mr Price, gesê.


"Met dié klere sal die spanlede 'n tapisserie van Suid-Afrika met hulle saamdra," sê Feher.
Die meeste van die kleredrag is met die hand in KwaZulu-Natal vervaardig.
Nocawe Mafu, adjunkminister van sport, kuns en kultuur, se boodskap was dat sport 'n groot rol speel om Suid-Afrikaners te verenig.
"Help ons om te vergeet van ons swaarkry," het sy gesê.
Mafu, wat ampshalwe die laaste paar jaar talle groot internasionale sportbyeenkomste wêreldwyd, soos die Statebondspele in 2022 en verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi, bygewoon het, sê sy weet nie of sy in Parys sal wees om die span aan te moedig nie.
"Ek wens ek kan sê ek sal daar wees, maar ek weet nie of dit die geval sal wees nie. Alles hang af van wat met volgende week se (algemene) verkiesing gebeur," het sy gesê.




















