
'n Dekade gelede het Bongi en Paulina Mahlangu nagte wakker gelê oor wat van hul klein Ntando sou word.
Die seuntjie is gebore sonder onderbene en was gekluister aan 'n rolstoel. As hy geloop het, sê sy ouma Paulina, was dit "op sy knieë", maar oor die algemeen het hy nie veel beweeg nie.
"Toe hulle (Johan Snyders en Michael Stevens van Jumping Kids) na ons toe kom en sê hulle wil sy bene afsny, het ek gedink hulle kan mos nie dit doen nie, hulle gaan mos die kind doodmaak," het sy Maandag by die O.R. Tambo-lughawe gesê.
"Maar Ntando wou niks weet nie, hy het gesê dit moet gedoen word, want hy wou kon beweeg.
"Ons was verskriklik bekommerd toe hy gaan vir die operasie . . . ons sou nooit ooit kon dink dit sou ons vandag hier kry nie."

Bongi beskryf dit as " 'n wonderwerk". Maandag het sy, haar ma, haar broers en hul bure van Tweefontein in Mpumalanga trots in Ndebele-drag op die O.R. Tambo-lughawe gaan wag op haar 19-jarige seun om terug te keer uit Tokio, waar hy verlede week 'n Paralimpiese superster geword het.
Nege jaar nadat die jongeling sy rolstoel gegroet het sodat hy kunsbene kon kry, het hy Japan toe gegaan om twee goue medaljes (in die verspring en 200 m) en 'n nuwe wêreldrekord in te oes.
"Ek sou daarvan gehou het om vir julle nóg 'n wêreldrekord (in die 200) te bring, maar dis oukei dat dit nie gebeur het nie," het die tiener later met 'n skewe glimlag gesê.
Mahlangu het vriend en vyand verras met sy goue sukses in die verspring, waarin hy, as T61-atleet (met 'n dubbele been-amputasie bo die knie), moes meeding teen teoreties sterker T63-atlete (van wie albei bene onder die knie geamputeer is).
Hy het hulle almal met 'n T61-wêreldrekord van 7.17 m getroef, en gesê daardie monstersprong was uit en uit vir sy land.
"Voor die sprong het ek by myself gedink, hierdie een is vir Suid-Afrika, en toe kom daai groot sprong uit. Sien, dit wys jou net, 'n mens kan nogal ver spring vir dié land - dis mos 'n lekker groot land," het hy met 'n breë glimlag verduidelik.
Paulina sê die hele gemeenskap het voor die televisie saamgedrom om haar kleinseun se triomf in die verspring te sien, en natuurlik het die dak gelig toe hy wen. Toe hy ses dae later in nat weer ook die 200 m vir T61-naellopers wen, het pandemonium losgebars.

"Almal wou vandag lughawe toe kom, maar met Covid-19 kon net 'n paar van ons kom. Ons is almal so trots op wat Ntando gedoen het, en dit maak my hart ook bly om te sien hoe hy verskillende mense bymekaar gebring het," het sy ouma blinkoog gesê. Sy het gewys na waar Tweefontein se mense skouer aan skouer met die oorwegend wit Afrikaanse skoolseuns van die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria gestaan het.
Ntando is 'n matriekseun aan Affies, en daar was 'n horde van sy skoolmaats wat baniere gebring het en van "Sarie Marais" tot "Shosholoza" uitgebulder het terwyl hulle vir hom gewag het.
Dit is waaroor dit gaan - om ubuntu terug te bring. Ek het dit dié keer gedoen, en ek hoop ek kan dit aanhou doen, en mense aanhou inspireer.
Ntando self het met sy terugkeer gesê dit het 'n klomp emosies in hom losgemaak om mense van sy tuisdorp én sy skool te sien toe hy die aankomssaal binnestap.
"Die heel belangrikste ding vir my was om mense en kulture te verenig, so dit was emosioneel om te sien hoe my broers (van Affies) en my gemeenskap saamgestaan het.
"Dit is waaroor dit gaan - om ubuntu terug te bring. Ek het dit dié keer gedoen, en ek hoop ek kan dit aanhou doen, en mense aanhou inspireer.
"Ons is as 'n land baie sterk, en het net dinge soos hierdie nodig om al ons mense na mekaar toe te druk," het hy gesê.
Die gemak waarmee Mahlangu sy teenstanders in Tokio eekant toe gevee het, het 'n mens amper laat vergeet dat atletiek nie die enigste ding is waarop hy hom in dié stadium kan toespits nie. Die tiener moes tussen sy goue sukses deur skoolwerk ook doen om voor te berei vir sy rekordeksamen.
Sy eerste eksamenvraestel wag reeds Vrydag: 'n Wiskunde-vraestel waarvoor hy nie 'n aks bang klink nie.
"Nee, ek is reg daarvoor," het hy Maandag met 'n vasberade stem gesê. "Ek gaan sommer al môre terug skool toe, en nee, ek is nie bekommerd oor vlugflouheid nie. Ek slaap dit gewoonlik sommer gou af."












