All Blacks kry splinternuwe kaptein

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Scott Barrett en Scott Robertson Maandag in Christchurch.  Foto: Getty Images
Scott Barrett en Scott Robertson Maandag in Christchurch. Foto: Getty Images

Scott Robertson, hoofafrigter van die All Blacks, het Maandag vir Scott Barrett as die span nuwe kaptein aangewys.

Die kleurvolle Robertson het ook sy eerste groep vir 'n reeks van twee toetse volgende maand teen Engeland aangekondig.

Barrett neem oor by Sam Cane, wat die leisels neergelê het nadat hy Nieu-Seeland sedert 2020 aangevoer het. Robertson het die losvoorspeler Ardie Savea, Wêreldrugby se Speler van die Jaar in 2023, en die senter Jordie Barrett as sy onderkapteins gekies.

"Ek voel geweldig geëerd en dankbaar vir die geleentheid," sê die 30-jarige Scott Barrett.

"Ek is opgewonde oor wat voorlê en besef dat dit 'n groot taak is wat met baie druk gepaard gaan, maar ek is opgewonde om te sien waarheen hierdie span op pad is."

Die slot het sedert sy toetsbuiging in 2016 in 69 wedstryde vir die All Blacks uitgedraf.

Daar is drie Barrett-broers in die All Black-span, met Scott en Jordie se ouer broer, Beauden, wat ook ingesluit is.

Robertson, wat reeds voor die begin van verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi as Ian Foster se plaasvervanger aangekondig is, het vyf groentjies vir sy groep van 32 spelers betrek.

Die nuwe gesigte is die haker George Bell (Canterbury Crusaders), skrumskakel Cortez Ratima en agtsteman Wallace Sititi (albei Waikato Chiefs), asook die stut Pasilio Tosi en senter Billy Proctor (albei Wellington Hurricanes).

Nieu-Seeland speel gasheer vir Engeland in Dunedin op 6 Julie en 'n week later op Eden Park in Auckland, voordat hulle op 20 Julie in San Diego teen Fidji te staan kom.

• All Black-groep:

Voorspelers: Asafo Aumua, Codie Taylor, George Bell, Ethan De Groot, Tyrel Lomax, Fletcher Newell, Pasilio Tosi, Ofa Tu'ungafasi, Tamaiti Williams, Scott Barrett (k), Tupou Vaa'i, Patrick Tuipulotu, Ethan Blackadder, Samipeni Finau, Luke Jacobson, Dalton Papali'i, Ardie Savea, Wallace Sititi.

Agterspelers: Finlay Christie, TJ Perenara, Cortez Ratima, Beauden Barrett, Damian McKenzie, Jordie Barrett, Rieko Ioane, Anton Lienert-Brown, Billy Proctor, Caleb Clarke, Emoni Narawa, Stephen Perofeta, Sevu Reece, Mark Tele'a. - AFP

SPELETJIES VANDAG

CTA