Die Springbokke is terug as Wêreldrugby se nr. 1-span nadat Nieu-Seeland Vrydagaand sy eerste toetssege op Ierse bodem sedert 2016 behaal het én Ierland vir die eerste keer sedert 2021 op sy tuisveld geklop is.
Volgens die voormalige All Black-slot Ian Jones is die Bokke welverdiend terug in die posisie waar hulle hoort nadat Nieu-Seeland die Iere in Dublin met 23-13 geklop het, en sodoende vir Ierland van die boonste posisie op die ranglys afgestamp het.
Die Wêreldrugby-ranglys word Maandag amptelik hersien, maar soos sake ná Vrydagaand se uitslag daar uitsien, is Suid-Afrika (91.77) weer eerste, Nieu-Seeland (91.21) tweede en Ierland (90.58) derde.
"Bloot omdat 'n span boaan die ranglys is, beteken nie dat hy die beste in die wêreld is nie," het Jones uit Auckland aan Rapport gesê.
"Buitendien beskou ons (Nieu-Seeland) die Bokke as die beste, ongeag wat op die ranglys aangaan."
Dit was Ierland se eerste tuisnederlaag in meer as drie jaar, met ses strafdoele deur die All Blacks se losskakel, Damian McKenzie, wat uiteindelik die deurslag gegee het. Die Kiwi's het teen rustyd met slegs 9-6 voorgeloop en ook vir Jordie Barrett aan 'n geel kaart afgestaan vanweë 'n hoogvat op Garry Ringrose.
"Dit was 'n groot oorwinning vir ons," sê Jones.
"Ná die sege oor Engeland op Twickenham verlede naweek, het die All Blacks hierdie kragmeting met heelwat selfvertroue aangepak. Ek het regdeur die wedstryd gevoel dat ons 'n mate van beheer gehad het.
"Nieu-Seeland het oor die jare 'n goeie rekord in Dublin gehad, maar nie die laaste paar jaar nie. Hierdie is 'n nuwe All Black-era, wat 'n klompie toetse geneem het vir Scott Robertson (afrigter) om sy stempel behoorlik te begin afdruk.

"Hierdie groep spelers het geweldig gegroei tydens die twee Rugbykampioenskapstoetse teen die Bokke in Suid-Afrika vanjaar. Die toetse op Ellispark en in die Kaap was massief, en die span het op daardie momentum voortgebou."
Volgens Jones was die waardevolste les wat die Kiwi's by die Bokke geleer het, die impak van 'n kragtige reserwebank.
"Dit was so duidelik soos daglig in Dublin," sê hy.
"Die impak van groot manne soos Ofa Tu'ungafasi, Pasilio Tosi en Patrick Tuipulotu, vanaf die reserwebank, was beduidend in die tweede helfte. Dit stel 'n span in staat om vir 80 minute op alle silinders te vuur en sterk te eindig, wat noodsaaklik is in hedendaagse toetsrugby.
"Myns insiens was die groot verskil tussen die All Blacks en Iere dat ons die druk en intensiteit vir langer kon volhou as hulle, en daardie druk is uiteindelik in waardevolle punte omskep.
"Nieu-Seeland was effens slordig by die afbreekpunte, maar dis iets wat reggestel kan word. Vrydagaand se oorwinning het opwindende nuwe talent, soos dié van Wallace Sititi (flank) en Cam Roigard (skrumskakel), uitgestal, terwyl die uitmuntende Will Jordan van krag tot krag gaan in die nr. 15-trui."
- Ierland (13) Drieë: Josh van der Flier Doelskop: Jack Crowley (1) Strafdoel: Crowley (2) Nieu-Seeland (23) Drieë: Will Jordan Strafdoel: Damian McKenzie (6)





















