Duhan, jou doring!
'n Suid-Afrikaner was die groot held in Skotland se opwindende oorwinning met 30-21 oor aartsvyande Engeland in die spanne se Sesnasies-kragmeting, om die tradisionele Calcutta-beker.
Duhan van der Merwe het 'n onvergeetlike driekuns in Edinburg behaal, om sy toetstotaal op 26 drieë te staan te bring. Sy uitsonderlike prestasie het selfs die beroemde Skotse akteur, Gerard Butler, wat in die skare was, in vervoering gehad.
Die blondekop-vleuel van die Suid-Kaap is nou tweede op Skotland se lys van topdriedrukkers, slegs een agter Stuart Hogg se totaal van 27.
"Ek kan dit nie glo nie. Ek het nog nooit 'n driekuns vir Skotland behaal nie. Om dit vandag teen Engeland te kon aanteken, is baie spesiaal, en ek is baie dankbaar aan my spanlede vir die geleenthede wat hulle vir my geskep het," het Van der Merwe ná die tyd gesê.
Die finale doedelsak-note van "Flower of Scotland" het skaars oor die Skotse Hooglande verdwyn, toe Engeland hul eerste drie gedruk het ná volgehoue druk. Skotland se lynstane het gelol, en Engeland het aanvanklik daarin geslaag om die stryd om balbesit en gebiedsvoordeel te oorskadu. Die oopkantflank, Sam Underhill, was veral 'n yster in die stryd om die losbal vir Engeland.
Halfpad deur die eerste helfte, en letterlik die eerste keer dat Skotland in die opposisie se halfgebied kon kom, het Van der Merwe gaan druk ná 'n vlymskerp breekslag deur die buitesenter Huw Jones. Tien minute later het Van der Merwe, vanuit gebroke spel en 10 m binne sy eie halfgebied, uitsonderlike spoed en krag tentoongestel om sy tweekuns te behaal.
Skotland het daarna met 17-13 voor gaan rus - ietwat teen die verloop van spel.
Vyf minute ná rustyd het Van der Merwe glimlaggend oorgewals vir sy driekuns ná 'n goeie Skotse teenaanval.
Finn Russell het boonop sy skopstewel aangehad en die voorsprong met strafdoele na 30-16 gerek. Dit het opnuut "Flower of Skotland" se lirieke deur Murrayfield laat weergalm.
Hoewel Immanuel Feyi-Waboso met 15 minute oor Engeland se tweede drie gedruk het, was Van der Merwe se venyn en Russell se skopskoen genoeg vir 'n spoggerige Skotse sege.
- Skotland 30 (17): Drieë: Duhan van der Merwe (3). Doelskoppe: Finn Russell (3). Strafdoele: Russell (3). Engeland 21 (13): Drieë: George Furbank, Immanuel Feyi-Waboso. Doelskop: George Ford. Strafdoele: Ford (2). Skepdoel: Ford.





















