Die voorste eerste span in Suid-Afrikaanse skolerugby vanjaar kan moontlik reeds Saterdag in George bepaal word wanneer die Hoërskool Outeniqua vir Grey Kollege van Bloemfontein gasheer speel.
Dit is natuurlik nie 'n amptelike titel wat op die spel is nie, maar gegewe dié spanne se spelpeil tans kan toeskouers verwag dat dié skole mekaar behoorlik gaan opkeil.
Grey Kollege het tot dusver nog gestoomroller oor elke teenstander wat hy teëgekom het en het in sy vyf amptelike kragmetings en een voorseisoense wedstryd reeds 'n yslike 281 punte opgestapel, terwyl hy net 79 afgestaan het. Hy het reeds met die Hoërskool Trio (38-10), Welkom Gimnasium (73-21), die Hoër Landbouskool Marlow (52-12), St. Andrew's College (48-0), Paarl Gimnasium (33-12) en Maritzburg College (37-24) afgereken.
Die Kwaggas is ook goed op dreef en spog vanjaar met seges oor die Hoërskool Parel Vallei (59-6), Hoërskool Noordheuwel (18-14), Hoërskool Menlopark (71-11) en Hoërskool Monument (34-27).
Albei spanne beskik oor massiewe agttalle, met Grey Kollege wat in sy losskakel, Ian van der Merwe, 'n spelskepper het wat die gang van die kragmeting kan bepaal. Outeniqua het agterlangs ook heelwat slaankrag.
Die Kwaggas het in 2013 laas die span van die Rosestad getroef, met Duhan van der Merwe, Warrick Gelant en Dewald Human daardie dag in hul geledere. Van der Merwe is deesdae 'n uitblinker vir die Skotse rugbyspan, Gelant is 'n Springbok en Human 'n Blitsbok-staatmaker.
Die Hoër Landbouskool Boland en Hoërskool Garsfontein is albei ook nog onoorwonne en sal dié status wil behou.

Garsies se Bere pak die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) op Affies se veld in 'n Pretoria-derby wat in 2022 hervat is en vinnig kan groei tot een van die groot gebeurtenisse op die rugbykalender in die noorde.
Die NWU-skolereeks hervat ook die naweek.
In dié kompetisie behoort die stryd tussen Hoërskool Menlopark en Hoërskool Nelspruit boeiend te wees, met albei spanne wat na slegs hul tweede oorwinning van die jaar mik.
Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen van Boksburg het op sy beurt vanjaar al heelwat sukses behaal, maar sal weer teen die Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark op die wenpad wil kom.
Jansies het ses wedstryde op 'n streep gewen voordat die wiele ietwat afgekom het by Kearsney College se pas afgelope Paastoernooi. In daardie toernooi het hy gelykop gespeel teen Hartpury College van Engeland (28-28), voordat hy teen die gasheer (12-17) en Westville Boys' High (10-22) die knie gebuig het.
Die Hoërskool Kempton Park en die Hoërskool Eldoraigne van Centurion is ook slaags, terwyl die Hoërskool Klerksdorp en Hoër Tegniese Skool Middelburg mekaar die stryd aansê.
Die Hoërskool Monument van Krugersdorp en Jeppe High School for Boys van Johannesburg se tweestryd kan potensieel vir 'n drieëfees sorg met nie een van die spanne wat skaam is om die bal te laat loop nie.
In die Wes-Kaap sal Boland Landbou van die Agter-Paarl na Bellville reis waar hy teen die Hoërskool Stellenberg te staan kom in nog 'n stryd waar die vonke kan spat, terwyl Paarl Gimnasium in 'n watertandstryd vir Wynberg Boys' High School gasheer speel.
Die Hoër Landbouskool Oakdale van net buite Riversdal kou tot dusver harde bene vanjaar, maar sal sy seisoen op dreef wil kry teen die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai). Dit gaan egter geen maklike taak wees nie.
Grey High School van Gqeberha pak die lang pad aan om in Stellenbosch vir Paul Roos Gimnasium die stryd aan te sê. Grey High kon laas in 2017 die botoon in dié bepaling voer.
• Die meeste van dié wedstryde kan op SuperSport School gestroom word.



















