Leeustoer

Gewag dalk seën vir veelsydige Fassi

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Was dit nie vir beserings en die Covid-19-pandemie nie, was Aphelele Fassi waarskynlik reeds 'n Springbok.

Maar die gewag voordat hy nou oplaas by 'n Bok-groep ingesluit is, was moontlik 'n bedekte seën, sê iemand wat dié heelagter ken sedert hy sy eerste tree op 'n rugbyveld gegee het.-

Aphelele Fassi is by die Springbok-groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus ingesluit. Foto: Gallo Images
Aphelele Fassi is by die Springbok-groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus ingesluit. Foto: Gallo Images

Grant Griffiths, wat Fassi afgerig het toe hy vir Dale College in King William's Town se eerste span gespeel het, sê dit kon nadelig vir sy loopbaan gewees het as Fassi te vroeg 'n Bok geword het.

"Jy kan wel nooit sê nie, dalk sou hy dadelik uitgestyg het, maar ek dink dis goed dat hy tyd gehad het," sê Griffiths aan Netwerk24.

"Nou het hy baie selfvertroue opgedoen deur goeie vertonings op Superrugby- en Curriebeker-vlak te lewer, teen spelers met groot name. Daardie twee of drie jaar sou hom meer baat."

Fassi (23) het in 2018 op die toneel verskyn en vinnig opslae begin maak met sy skitterspel vir die Haaie. Hy het verlede jaar in September 'n skouerbesering opgedoen wat sy seisoen kortgeknip het. Die Bokke het toe ook aan die Rugbykampioenskap onttrek, maar selfs as hulle nie het nie, sou Fassi nie beskikbaar gewees het nie.

Hy het intussen herstel en lewer die laaste ruk weer sulke goeie spel vir die Haaie dat hy Saterdag by Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se Bok-groep ingesluit is vir die reekse teen Georgië en die Britse en Ierse Leeus.

Griffiths is nie verbaas oor Fassi se opgang nie. Hy sê hy was op skool reeds briljant.

"Die laerskool waar hy was, het nie rugby aangebied nie en hy het dus eers in graad agt begin rugby speel. Hy het as 'n skrumskakel begin," vertel Griffiths.

Fassi speel dus nog nie eens tien jaar lank rugby nie.

"Toe hy op eerstespan-vlak gekom het, het ek hom na losskakel en heelagter geskuif. Jy kon hom eintlik maar enige plek laat speel; hy was absoluut briljant."

Fassi was ook 'n goeie krieketspeler op skool.

"Ek dink hy kon 'n tennisraket optel en skitterend daarin wees. Hy was een van daardie ouens wat net talent vir alles het. Hy sou provinsiale krieket ook kon speel as hy nie rugby gekies het nie. Hy was 'n skitterende sportman."

Fassi het egter vroeg reeds besluit sy toekoms lê in rugby. Griffiths glo die Haaie se besluit om hom uitsluitlik op heelagter in te span, is 'n goeie een.

"Anders kon hy een van daardie spelers geword het wat die heeltyd op die plaasvervangersbank sit vanweë sy veelsydigheid.

"Hy sal wel gemaklik op losskakel kan inval. Dalk kan hy begin wissel tussen die twee, maar vir die afsienbare toekoms sal hy hom net op heelagter toespits.

"Met Curwin Bosch in die Haaie-span, het hy nog nie baie kans gekry om te wys wat hy met sy skopskoen kan doen nie, maar hy is ook 'n uitstaande stel- en lynskopper. Amper in dieselfde klas as Curwin. En hy het 'n linkervoet, wat goed is vir afwisseling."

Volgens Griffiths moet Fassi mik vir 'n plek in die Bokke se 23-tal, maar terselfdertyd soveel as moontlik by Willie le Roux en die ander ervare Bokke probeer leer.

"Hy moet alles indrink. As hy nie nou 'n kans kry nie, sal dit nog gebeur. En dit sal gouer liewer as later gebeur."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM