Leeustoer

Leeus wil Bokke moeg hardloop in 3de toets

Die Britse en Ierse Leeus is op hul beste met die bal in die hand, meen Courtney Lawes. Foto: Getty Images
Die Britse en Ierse Leeus is op hul beste met die bal in die hand, meen Courtney Lawes. Foto: Getty Images

Geniepsigheid is tot op hede 'n kenmerk van hul spel, maar die Britse en Ierse Leeus wil nou die ander wang draai in 'n fyn berekende strategie om die Springbokke in Saterdag se derde toets in die Kaapstad-stadion te troef.

Die denkrigting is as volg: Elke vertraging in die spel pas die Springbokke. As die Leeus wil wen, glo hulle, sal die wedstryd teen 'n vinniger tempo gespeel moet word.

Hulle (die Bokke) kan hul handsakke maar soveel rondswaai as wat hulle wil, solank as wat ons net die bal kan kry en rugby speel.

—  Courtney Lawes

Behalwe dat hulle reeds met die skeidsregter, Mathieu Raynal, vergader het om hom op die Bokke se beweerde vertragingstaktiek bedag te maak, sê die Leeus hulle gaan hul humeure in toom hou. Dit pas hulle nie dat die spel onderbreek word deur spelers van weerskante wat mekaar aan die kraag beetkry en rondstamp nie.

"Hulle (die Bokke) kan hul handsakke maar soveel rondswaai as wat hulle wil, solank as wat ons net die bal kan kry en rugby speel," sê Courtney Lawes, die Leeus se steelkantflank.

"Hul wedstrydplan vir die laaste toets was om die spel te vertraag. Ons is 'n baie fikse span en wil die bal skuif. Ons het in die tweede helfte van die eerste toets gewys dat, as ons daarin slaag, begin die Bokke sukkel en dit spoel dan na hul skrum- en dryfspel toe oor.

Die Britse en Ierse Leeus meen dat hierdie soort toneel, wat hom in verlede naweek se tweede toets in die Kaapstad-stadion afgespeel het, sleg vir hul ritme is. Foto: Getty Images
Die Britse en Ierse Leeus meen dat hierdie soort toneel, wat hom in verlede naweek se tweede toets in die Kaapstad-stadion afgespeel het, sleg vir hul ritme is. Foto: Getty Images

"Wanneer die Bokke nie moeg is nie, skrum hulle goed. Hulle is groot, sterk ouens en gaan jou met rolmale teister as jy strafskoppe afstaan."

Gregor Townsend, die Leeus se aanvalsafrigter, meen ook die Leeus moet hul heil in kreatiwiteit met die bal soek.

"Ons sal beslis meer kreatief moet raak," sê hy.

Ons moet die spel meer beheer deur Suid-Afrika rond te skuif en hulle energie by elke geleentheid te tap.

—  Gregor Townsend

"Ons het die vermoë om Suid-Afrika onder druk te plaas, wat later in die wedstryd vir geleenthede kan sorg of die telbord deur skoppe kan laat rol.

"Ons moet die spel meer beheer deur Suid-Afrika rond te skuif en hulle energie by elke geleentheid te tap. Jy skep deur jou akkuraatheid en besluitneming tempo in die spel, maar wil ook hê dat dit só vinnig as moontlik weer aan die gang moet kom wanneer daar 'n skrum of lynstaan is. Hopelik is dit dié week 'n korter wedstryd as verlede naweek."

Townsend verwag wel dat die Bokke sterker as in die tweede toets sal wees.

"Die Bokke het oor die drie wedstryde wat hulle gespeel het, as jy die SA A-wedstryd daarby insluit, net beter geraak. Ek dink dit sal weer eens die geval wees," sê hy.

In dieselfde asem sê hy daar steek nog "baie meer" in die Leeus.

"As jy die eerste helfte van verlede week en die tweede helfte van die eerste toets by mekaar voeg, sal dit 'n baie goeie vertoning wees," sê Townsend.

"Maar ek dink daar's meer in ons as daardie twee helftes. Ons kan op elke gebied van die spel beter wees. Al het ons 'n paar veranderinge gemaak, het die spelers telkemale al saam geoefen en glo ek dat ons beslis beter sal wees met nóg 'n wedstryd onder die gordel. Dit sal beslis 'n beter toets as verlede week wees."

CTA