'n Stukkie Cheslin Kolbe-toorkuns, wat aan die Wêreldbeker-eindstryd van 2019 herinner, en 'n strafdoel deur Morné Steyn wat aan 2009 se reekssege oor die Britse en Ierse Leeus herinner, het gisteraand die Springbokke in die beslissende toets teen die toerspan van die Britse en Ierse Leeus met 19-16 laat seëvier.

En, daarmee saam, ook 'n hele paar ton van sweet wat getap het uit gespierde, fisieke en uitmergelende kontakrugby.
Kolbe se drie, toe hy twee verdedigers met sy flinke voetwerk op pad doellyn toe geklop het én met 'n ongelooflike hand-afstamp 'n Leeu-verdediger ontwyk het, en Steyn se koelkop-strafdoel was uiteindelik genoeg om 'n toetsoorwinning én 'n reekssege aan die tuisspan te besorg, met die toerende Leeus wat in die reeks van drie toetse met 2-1 geklop is.
Sedert 1997 kon die Leeus nog nie weer in Suid-Afrika 'n reeks beklink nie.
Gisteraand se stryd was kliphard en vroeg al het die bloed gevloei met verskeie spelers wat bloedbehandeling moes kry.
Die Springbok-slot Franco Mostert het eerste die mag van die Leeus gevoel toe hy die veld met 'n hou teen die oog, wat die bloed laat vloei het, moes verlaat. Dit het die yster-voorspeler egter nie geïntimideer nie en hy het 'n briljante wedstryd beleef.
Aan die Leeus-kant was dit Alun Wyn Jones en die vleuel Josh Adams wat ook vroeg houe gewys het soos die Bokke hulle gelak het.
Eben Etzebeth, Bok-slot, was die hoof-indoena vir sy span wat fisieke spel betref het. Hy was vroeg reeds aan die spits van die klipharde duikslae wat die Bok-verdediging opgedis het, terwyl sy inklimwerk in die vastelos ook prysenswaardig was. Dan het hy ook 'n slag die Leeus se rolmaalbewegings laat ontspoor, terwyl hy 'n kritieke lynstaanbal gesteel het om die besoekers van momentum te weerhou.
Kolbe verdien groot lof vir sy drie wat die gety in sy span se guns geswaai het. Tot voor dit het die Bokke maar gesukkel om die doellyn van die Leeus oor te steek.
Kolbe het puik afgerond ná 'n lugskop van die Leeus nie bemeester kon word nie. Willie le Roux, Springbok-heelagter, het hom in spasie gesit en nes in die Wêreldbekereindstryd het Kolbe sy danspassies ingespan om die drie te druk.
Marius Jonker, TV-skeidsregter, het hard probeer dat die skeidsregter Mathieu Raynal op die kykweer weer na die drie kyk, maar Raynal was tevrede dat die bal nie aangeslaan is nie en die drie kon ná 'n hele paar kykwere toegeken word.
Steyn het ook met sy twee strafdoele - ná hy in 'n kritieke stadium opgestuur is as stelskopper - geslaag om die Bokke se bas te red. Dit nadat Handré Pollard met drie redelike maklike strafdoelpogings onsuksesvol was. Dit sou die telling nog verder in die Bokke se guns gelaat het.

Die Leeus was in die eerste helfte op die voorvoet, selfs toe die losskakel Dan Biggar die veld met 'n besering verlaat het. Dit was dalk 'n bedekte seën vir die toerspan, want die vlugvoetige Skot Finn Russell het hom in die 10-trui vervang en dinge het beter met die besoekers gegaan.
Die plaasvervanger-10 het onmiddellik 'n impak gemaak en die besoekers se tempo op die aanval verhoog. Sommer die eerste keer wat hy aan die bal geraak het, het dinge beter gelyk toe die Leeus gehardloop het. Hy het die vermoë om iets vanuit niks te skep, terwyl daar dalk kommer oor sy skopwerk sou wees.
Die span het ook 'n paar variasies in die agterlyn uitgevoer met Russell wat die Bokke se verdediging aan die raai gehou het.
Sy skoppe het toe glad nie gepla nie, met sy hoekskoppe kantlyn toe waarmee hy meters veld vir sy span gewen het.
Een van daardie strafskoppe het op die rolmaalbeweging uitgeloop wat tot die haker, Ken Owens, se drie vanaf die dryfbeweging gelei het.
Die Leeus het selfs in die tweede helfte 'n klomp kanse gehad om strafskoppe pale toe te skop, maar nadat die rolmaalbeweging so goed gewerk het, het hulle aanhou lyn toe skop in die hoop vir nog 'n oorstoot-drie.
Maar dit het net by hoop gebly.
Die Springbokke het soos besetenes op hul doellyn verdedig en daar was net geen deurkomkans vir die besoekers nie. Hulle het elke keer dieselfde opsie gekies om nie vir punte te gaan nie en elke keer moes hulle bakhand en sonder 'n drie by die Bok-doellyn omdraai.
En al was daar gister nie 'n "Bom Squad" vir die tuisspan om die Leeus in die tweede helfte fisiek te oorheers nie, het elke liewe speler vanaf die plaasvervangersbank hul kant gebring.
Dis uiteindelik daardie sterk skrum, wat 'n hele paar strafskoppe gekry het, wat die deurslaggewende skrum en strafskop gewen het.
Die plaasvervanger-voorry in die haker, Malcolm Marx, en sy stutte, Trevor Nyakane en Vincent Koch, het saam met die res van die pak die laaste skade aan die Leeus-skrum gedoen om 'n strafskop te wen wat Steyn kon tik en oor die kantlyn sool vir die welverdiende reekssege.
- Suid-Afrika (19) Drieë: Cheslin Kolbe. Doelskop: Handre Pollard. Strafdoele: Pollard (2), Morne Steyn (2).
- Britse Leeus (16) Drie: Ken Owens. Doelskop: Finn Russell. Strafdoele: Russell (3).




















