Die Ierse klubspan Leinster het Saterdag sy plek in die eindstryd van die Europese Kampioenebeker bespreek.
Hy het die Franse span Toulouse met 41-22 in die eerste halfeindstryd in Dublin afgeransel.
Die tweede halfeindstryd word Sondag om 16:30 in Bordeaux tussen La Rochelle en Exeter Chiefs beslis.
Leinster het met die rustyd met 27-14 voorgeloop.
Jack Conan (2), Dan Sheehan, Josh van der Flier en die Springbok-slot Jason Jenkins het vir die tuisspan drieë gedruk en Ross Byrne (losskakel) het 16 punte met sy skopskoen bygedra.
Swak dissipline het tot Toulouse se ondergang bygedra.
Dié span is in elke helfte met geel kaarte gestraf.
Thomas Ramos (heelagter) is gestraf vir 'n doelbewuste aanslaan van die bal, terwyl die plaasvervanger-stut Rodrigue Neti sy gele gekry het vir vuil spel by die afbreekpunt.
Pita Ahki, Emmanuel Meafou en Jack Willis het drieë vir die Franse gedruk.
La Rochelle is die verdedigende kampioen.
Die eindstryd word op 20 Mei in Dublin beslis.
Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, sal hom later vanjaar by Leinster aansluit. - Sportredaksie



















