Leinster is een tree nader aan 'n vyfde trofee in die Europese Kampioenebeker-reeks nadat hy Vrydagaand vir Leicester Tigers met 55-24 platgevee het in die Aviva-stadion.
Die terugkeer van Garry Ringrose was deurslaggewend met die Ierse senter wat twee keer in die eerste helfte gaan druk het vir die tuisspan.
Anthony Watson het vir Leicester teruggeslaan, maar drieë deur Jamison Gibson-Park, Scott Penny, Jimmy O'Brien en John McKee, tesame met 'n strafdrie, het 'n oortuigende sege verseker.
Leinster sal teen óf Toulouse óf die Haaie te staan kom in die halfeindstryd.
Leinster toon tot dusver manjifieke spelpeil in al sy kompetisies en het 21 van sy laaste 22 wedstryde gewen, met een gelykopuitslag.
Sou hy die eindstryd haal, is die vooruitsig van 'n tuiswedstryd op 20 Mei een wat van die span die gunsteling maak om vir die eerste keer sedert 2018 die trofee te lig.
Leicester Tigers se aandag sal nou daarnatoe draai om hul Premierliga-titel te probeer verdedig, met Richard Wigglesworth se span wat tans in die derde plek op die puntetabel is, agter Saracens en Sale Sharks. - Sportredaksie




















