
Een van die Bulle se verlore seuns kom huis toe.
Hanro Liebenberg sal verseker dat die Bulle steeds krag het op flank of selfs op slot wanneer Springbokke soos Elrigh Louw, Ruan Nortjé, Cobus Wiese, Cameron Hanekom en Marco van Staden weens Bok-diens onbeskikbaar is.
Liebenberg, voormalige Junior Bok-kaptein, het van 2015 tot 2019 vir die Bulle gespeel en is daarna oorsee. Hy het ’n draai by Stade Français gemaak en speel tans vir die Leicester Tigers.
Hy is in die 2021-’22-seisoen as die Leicester Tigers se onderkaptein aangewys en die volgende seisoen tot kaptein bevorder. Liebenberg het in Februarie 2024 in sy 100ste wedstryd vir sy Engelse klubspan gespeel. Hy lewer bestendig uithalerspel vir die Tigers en dis waarom hy in meer as 95% van hul wedstryde begin.

Sy hope ervaring en sterk leierseienskappe is van die redes waarom Johan Ackermann hom gekontrakteer het.
Liebenberg is die tweede speler van die Tigers wat in die laaste paar maande besluit het om na Pretoria terug te keer.
Hy en Handré Pollard het tussen 2022 en 2025 in verskeie wedstryde saam vir Leicester gespeel voordat die Bok-losskakel teruggekeer het na Loftus Versfeld.
Rapport Praat Sport:
100002


















