Die Engelse toetsspeler Tom Curry sal nie in volgende jaar se Sesnasiesreeks in aksie wees nie en waarskynlik ook die res van die seisoen misloop omdat hy 'n heupoperasie moet ondergaan.

Die 25-jarige Sale Sharks-flank, wat verlede maand in die Wêreldbeker-bronsmedaljewedstryd teen Argentinië in sy 50ste toets vir die Rose uitgedraf het, het vanjaar se Sesnasiesreeks weens 'n dyspierbesering misgeloop.
Curry het ook die opbou tot die Wêreldbekertoernooi in Frankryk weens 'n beseerde enkelligament misgeloop.
Alex Sanderson, Sale se direkteur van rugby, sê 'n operasie is "op kort termyn" die beste opsie vir Curry en hy sal die prosedure oor twee weke ondergaan.
"Ek besef dit klink lang termyn - die res van die seisoen - maar dit is nie," sê Sanderson.
"Hy is steeds 'n jong man en dit is die beste besluit vir hom op kort termyn om te verseker dat hy in die toekoms meer robuus sal wees om te oefen en sy spel te ontwikkel soos hy wil hê.
"Ek is seker hy sal in die volgende vier of vyf maande voor- en teëspoed ervaar en ek hoop om saam met hom op daardie reis te wees terwyl ons hom weer fiks en gesond kry."
Curry het opslae gemaak met sy bewerings dat hy in die Wêreldbekertoernooi die slagoffer van 'n rassistiese uitlating deur die Springbok-haker Bongi Mbonambi was.
Ek het gehoor wat ek gehoor het. Dis al wat ek eintlik wil sê en ek gaan nie weer daaroor praat nie.
Curry het in sy span se halfeindstryd teen die Bokke aan die skeidsregter, Ben O'Keeffe, gevra: "Meneer, Meneer, as hul haker my 'n wit k*nt noem, wat moet ek doen?" O'Keeffe het geantwoord: "Niks, asseblief."
Dit het later aan die lig gekom dat nie net die halfeindstryd nie, maar ook die wedstryd tussen die twee spanne op Twickenham in 2022 deur Wêreldrugby onder die loep geneem is, maar geen bewyse kon gevind word dat Mbonambi die gewraakte woorde geuiter het nie.
In Suid-Afrika het die narratief ontstaan dat Mbonambi - 'n produk van 'n Afrikaanse laerskool in Bethlehem in die Vrystaat en deel van 'n Bok-agttal besaai met Afrikaanssprekendes - die Afrikaanse woorde "wit kant" gebruik het as verwysing na die Engelse span, wat in wit truie speel.

Mbonambi het dit vroeër vandeesmaand in 'n onderhoud met BBC Sport beaam, maar Curry staan by sy storie. "By albei geleenthede (in verlede maand se halfeindstryd en verlede jaar se Twickenham-wedstryd) was die bal buite spel. Ek en Bongi het gepraat en daar was geen misverstand aan my kant nie," het Curry gesê.
"Ek het dadelik na die skeidsregter gegaan. Ek het gehoor wat ek gehoor het. Dis al wat ek eintlik wil sê en ek gaan nie weer daaroor praat nie."
Curry het volgens Brittanje se Daily Mail besluit om sy sê oor die situasie te sê omdat sy familie aanlyn daaroor geboelie is. - Reuters, Sportredaksie



















