
Allister Coetzee kan nie die doemprofete van Springbokrugby kleinkry nie.
Dié Bok-afrigter het Maandag met die span se terugkeer van hul Europese toer gesê die swartgalligheid oor die vertonings is wanopvattings en dat hy voel dit was 'n baie "bevredigende toer". Hy sê ook hy is in sy skik met die vordering wat die Springbokke vanjaar gemaak het.
Vir diegene wat glo Coetzee is nie die man om die Springbokke te lei nie, het hy ook nuus.
"Ek weet wat ek doen en waarheen ek met hierdie span op pad is. Ja, 'n mens gaan langs die pad foute begaan, maar ons is nou reeds baie beter daaraan toe as wat die geval verlede jaar was.
"Ek kan nie die toekoms voorspel nie en weet nie wat my lot gaan wees nie, maar ek sal my verslag aan Saru (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) voorlê en my saak sterk stel. Daarna is dit in hul hande om 'n besluit te neem," sê hy.
Ek weet nie wat my lot gaan wees nie, maar ek sal my verslag aan Saru voorlê. Daarna is dit in hul hande om 'n besluit te neem
— Allister Coetzee
Coetzee het kort nadat die Bokke se vliegtuig uit Londen geland het, vertel dat hy ook veel eerder fokus op die nege toetse wat die Bokke nie vanjaar verloor het nie, insluitende die twee gelykopuitslae teen Australië, as om te kyk na die nederlae wat gely is.
"Daar is so 'n klein gaping tussen wen en verloor. Ek erken hierdie span is beslis nog nie waar ek wil hê hy moet wees nie, maar vir my is daar definitief vordering in die regte rigting.
"Kyk nou maar na die Europese toer. Daar is 'n 50%-verbetering op verlede jaar se jaareindtoer," sê hy van die twee uit vier seges.
En vir die doemprofete wat wil sê dat met hom as afrigter het die Bokke nou middelmatigheid as die norm begin aanvaar, het hy die volgende te sê: "Van die veld af was hierdie span nie in 'n enkele negatiewe insident betrokke nie. Dit getuig beslis nie van 'n groep wat middelmatigheid aanhang nie.
"Voor die Ierland-toets het Jean de Villiers vir ons gesê hy het lanklaas 'n span gesien wat so intens oefen en voorberei vir 'n toets. Dit getuig van hul gehalte en is beslis nie middelmatig nie," sê hy.
Wat die Ierland-nederlaag betref, gee Coetzee wel toe hulle het die toets takties nie reg benader nie en dat die dissipline nie goed was nie. Daar is te veel strafskoppe in die skrums afgestaan nadat Coenie Oosthuizen die veld vroeg moes verlaat.

Volgens hom het die probleem met die dissipline egter baie verbeter in die laaste drie toetse.
Coetzee voel ook baie positief oor die ontwikkeling van jong spelers soos Wilco Louw en Jean-Luc du Preez vanjaar.
"Daar is nou baie kritiek op ons agterlyn, maar as jy kyk dat die gemiddelde getal toetse tussen die agterspelers maar tien is, vertel dit sy eie storie," sê hy.
"Daar word ook nou gesê ons het teen 'n tweederangse Wallis-span verloor, maar kyk na hul spelskeppers, dit is almal ouens wat al in meer as 60 toetse gespeel het.
"Ek moet ook volgens my kontrak voldoen aan transformasieteikens en dit is wat ek doen. Met Warren Whiteley buite aksie, moes ek ook ander leiers in die span ontwikkel en dit is wat gedoen is.
"Ek voel ek kan met tevredenheid terugkyk op hierdie seisoen, maar my toekoms lê in die hande van ander (besluitnemers) en ek sal nou maar net my saak sterk stel en dan moet wag en kyk wat gebeur," sê Coetzee.









