Rugby

Oud-Leeus-afrigter McGeechan onthul kankerdiagnose

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jeremy Guscott (links) en Ian McGeechan in 1997 in Durban nadat die Britse en Ierse Leeus die tweede toets beklink het vir ’n voorsprong van 2-0 in die reeks van drie toetse. Foto: Getty Images
Jeremy Guscott (links) en Ian McGeechan in 1997 in Durban nadat die Britse en Ierse Leeus die tweede toets beklink het vir ’n voorsprong van 2-0 in die reeks van drie toetse. Foto: Getty Images

Prostaatkanker is by Ian McGeechan, 'n voormalige afrigter van die Britse en die Ierse Leeus, gediagnoseer.

McGeechan (78), alom bekend as Mr Lions, het dié nuus bekend gemaak in 'n onderhoud met die Britse publikasie The Telegraph.

Hy het in sy speeldae in 32 toetse vir Skotland en in agt vir die Britse en die Ierse Leeus diens gedoen. Sy eerste wedstryd vir die Britse en die Ierse Leeus was op 15 Maart 1974 teen Wes-Transvaal in Potchefstroom.

Nadat McGeechan se speeldae tot 'n einde gekom het, was hy die Britse en Ierse Leeus se hoofafrigter vir vier toere - in 1989, 1993, 1997 en 2009. Vir hul toer in 2005 in Nieu-Seeland, toe Clive Woodward die hoofafrigter was, was McGeechan 'n hulpafrigter.

Daarbenewens was McGeechan ook twee termyne lank Skotland se afrigter.

Ian McGeechan (links) en Dick Milliken in 1974 tydens die Britse en die Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika. Foto: Getty Images
Ian McGeechan (links) en Dick Milliken in 1974 tydens die Britse en die Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

"Ek het prostaatkanker. Ek het sopas 'n kursus van ses weke se bestraling voltooi," het McGeechan in die onderhoud gesê.

"Ek het in elk geval nog altyd goed geslaap, so dit het in elk geval seker nog gehelp. Ek moet nou ses weke wag voordat ek skanderings sal ondergaan sodat bepaal kan word hoe doeltreffend die behandeling was."

Met McGeechan as afrigter het die Britse en Ierse Leeus, wat uit spelers van Engeland, Ierland, Skotland en Wallis saamgestel word, 1989 se toetsreeks teen Australië Doer Onder met 2-1 gewen. Toe die span in 1997 in Suid-Afrika getoer het, het hulle die toetsreeks ook met 2-1 beklink.

McGeechan is sedert 2024 die Engelse klubspan die Doncaster Knights se direkteur van rugby.

"Ek het die spelers daarvan gesê voordat ek vir die behandeling gegaan het, want daar sal tye wees dat ek nie daar sal wees vir vergaderings of wanneer hulle op die oefenveld is nie," sê McGeechan.

"Die spelers het my gevra hoe dinge gaan en hulle is baie ondersteunend." - Reuters, Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM