As dit nie vir Joe Schmidt was nie, sou Nieu-Seeland nie verlede jaar die eindstryd van die Wêreldbeker (WB)-toernooi gehaal het nie, sê die voormalige All Black-haker Dane Coles.
Schmidt, wat nou die Wallabies se hoofafrigter is, het volgens Coles 'n "enorme" invloed op die All Blacks gehad toe hy in 2022 een van Nieu-Seeland se hulpafrigters geword het.
Voor dit het die All Blacks ses van hul laaste agt toetse verloor. Ná Schmidt se aanstelling het die span 15 van sy 18 toetse gewen.
"Sy (Schmidt) impak was enorm en hy het ons gehelp om weer op internasionale standaard te kom en konstant goed te vertoon," het Coles vanuit Japan, waar hy nou vir die Kubota Spears speel, aan Rugby Australië (RA) se webwerf gesê.
Hy is regtig passievol en intens en hy voer jou mee sodat jy hom nie in die steek wil laat nie.
"As hy nie daar was nie, dink ek nie ons sou die WB-eindstryd gehaal het nie."
Volgens Coles het Schmidt baie daarmee te doen gehad dat die All Blacks se spel op die aanval en by die afbreekpunte drasties verbeter het.

"Hy is regtig passievol en intens en hy voer jou mee sodat jy hom nie in die steek wil laat nie," sê Coles.
"Hy sal jou aanvat. Hy is 'n intense karakter en dit is waarskynlik iets wat ons toe nodig gehad het."
Dis amper soos 'n skop in die maag, maar ek wil eerder hê hy moet afrig, want hy is 'n wonderlike afrigter.
Coles, wat 90 toetse vir die All Blacks gespeel het, het gesê dis nogal moeilik om te aanvaar dat Schmidt nou die Wallabies gaan brei.
"Dis amper soos 'n skop in die maag, maar ek wil eerder hê hy moet afrig, want hy is 'n wonderlike afrigter," sê Coles.
"En met Australië wat nie baie goed by die WB-toernooi gevaar het nie, sal dit goed wees as hy (Schmidt) die span weer sterker kan laat word. Internasionale rugby het 'n sterk Aussie-span nodig." - Sportredaksie




















