Suid-Afrika se vrouesewesspan kon Saterdagoggend net-net nie daarin slaag om die gevreesde Nieu-Seeland in die Dubai-toernooi te klop nie.
Nieu-Seeland het die Groep A-wedstryd danksy 'n drie in die doodsnikke met 19-14 gewen. Die Kiwi's was verlede seisoen die algehele wenner van die Wêreldreeks - deesdae bekend as die SVNS-reeks.
Suid-Afrika het vroeg in die wedstryd met goeie verdediging die Kiwi's min ruimte gegun. In die eerste helfte het Nadine Roos en Maria Tshiremba vir die nasionale span gaan druk om die telling teen rustyd 14-5 in die Suid-Afrikaners se guns te maak.
Helaas is Tshiremba in die tweede helfte met 'n geel kaart afgestuur en dit was juis met haar langs die veld dat Nieu-Seeland se tweede drie gedruk is. Die drie is verdoel wat die telling 14-12 gemaak het.
In die doodsnikke van die wedstryd het Sarah Hirini, die Kiwi' se kaptein, haar span se derde drie gedruk om die wedstryd te beklink.
• Puntemakers: Nieu-Seeland 19 (5): Drieë: Mahina Paul, Jazmin Felix-Hotham, Sarah Hirini. Doelskoppe: Risaleaana Pouri-Lane (2). Suid-Afrika 14 (14): Drieë: Nadine Roos, Maria Tshiremba. Doelskoppe: Roos (2).





















