Die debutante Faith Tshauke en Patience Mokone het Saterdag elkeen twee drieë vir die Springbok-vrouespan gedruk in 'n drieëfees in die Afrika-toernooi in Antananarivo, Madagaskar.
Suid-Afrika het altesaam 10 drieë ingeryg om Uganda met 62-7 uit die pad te vee. Met die sege het die Bok-vroue die verdediging van hul Afrika-titel op 'n hoogtepunt begin.
Tshauke het in die nr. 8-trui diens gedoen, met Mokone op vleuel. Daar was altesaam agt spelers in die Bokke se 23-tal vir die kragmeting wat hul toetsbuiging gemaak het.
Teen rustyd was die telling 29-0 in die guns van die Suid-Afrikaners en was hulle stewig in beheer van die wedstryd.
Die Bok-vroue se volgende kragmeting in die Afrika-toernooi is Woensdag teen Kenia.
• Puntemakers: Suid-Afrika 62 (29):Drieë: Lerato Makua (2), Simamkele Namba, Faith Tshauke (2), Byrhandré Dolf, Patience Mokone (2), Aphiwe Ngwevu, Sinothile Bhengu. Doelskoppe: Mary Zulu (4), Dolf, Unam Tose.
Uganda 7 (0):Drie: Suzan Adong. Doelskop: Priscovia Mukyala. - Sportredaksie





















