Springbokke

‘Bokke groter as net SA’

Franco Mostert vang ’n lynstaanbal verlede jaar teendie All Blacks op ’n stampvol Twickenham.foto’s: getty
Franco Mostert vang ’n lynstaanbal verlede jaar teendie All Blacks op ’n stampvol Twickenham.foto’s: getty

Die Springbok-handelsmerk "het die Suid-Afrikaanse mark ontgroei," sê die land se rugbygrootbaas, Rian Oberholzer.

Dit is een van die twee belangrikste redes waarom die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) 'n ekwiteitsvennootskap ter waarde van R1,3 miljard met die Amerikaanse beleggingsmaatskappy Ackerley sluit.

Saru glo die Bok-handelsmerk is ná die verowering van twee Wêreldbekers só sterk dat dit as 'n "dollar-handelsmerk" gesien moet word.

" 'n Mens móét jou produk nou oorsee vat," sê Oberholzer, Saru se uitvoerende hoof.

"Hulle (Ackerley) moet ons handelsmerk oorsee vestig."

Die ander rede vir Saru se beplande vennootskap is om 'n reserwefonds op te bou. Die beheerliggaam het tans geen reserwefonds nie.

Oberholzer hoop hy kry einde September die goedkeuring van Saru se hoofraad om die ooreenkoms met Ackerley te finaliseer. Hy sal dan 'n finale konsep van die ooreenkoms vir goedkeuring aan die land se 15 unies voorlê. Geeneen van die franchises se aandeelhouers het seggenskap hieroor nie. Ackerley sal dan 'n kommersiële belang van 20% in SA Rugby bekom.

Ackerley het volgens inligting reeds 'n duur truiborgskap in plek vir wanneer die ooreenkoms met Saru beklink word.

Oberholzer is bekommerd dat Saru se kommersiële mag drie keer kleiner is as Nieu-Seeland s'n.

"Suid-Afrika doen dus iets verkeerd," sê Oberholzer.

Siya Kolisi soen vir Bill.
Siya Kolisi soen vir Bill.

"Die Engelse het ook die handelsmerk van 'n selfoonmaatskappy op die voorkant van hulle truie. Hulle kry 9,5 miljoen pond (sowat R210 miljoen) daarvoor. Die Bokke is op $3 miljoen (R53 miljoen). Die gaping is te groot."

Dit was nog nooit Suid-Afrikaanse rugby se strategie om sy produk buite die land te verkoop nie.

"Nie een van Nieu-Seeland se drie hoofborge is Nieu-Seelandse maatskappye nie. Daarteenoor is al die Bokke se borge van Suid-Afrika."

Saru sê nie daar is nie meer plek vir die plaaslike borge nie, maar hulle sal waarskynlik nie meer dieselfde ruimte kry vir die bedrae wat hulle wil betaal nie.

Rassie en die span verdien die eer. Hulle het die handelsmerk verander.

"Ons kan onsself nie op die agtervoet plaas nie. Ons moet na dollars kyk. Ons moet ons handelsmerk buite die land kry."

Hy prys Erasmus-hulle vir die sterk Bok-handelsmerk.

"Rassie en die span verdien die eer. Hulle het die handelsmerk verander," sê Oberholzer.

"Kyk byvoorbeeld ná die Wêreldbeker na al die mense wat in die strate die Bokke kom ondersteun het. Sowat 80% van hulle is waarskynlik nie rugbyondersteuners nie, maar hulle is baie lief vir die Bokke.

"As ons nie 'n ekwiteitsvennoot kry nie, sal daar yslike geldelike gevolge wees. Dit gaan oor die geldelike volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse rugby in geheel.

"Geen vennoot sal enige geld uit die pot vat voordat daar nie vir die rugby-gedeelte betaal is nie. Dit sluit die uitgawes van die nasionale spanne en die befondsing van Suid-Afrika se unies tot 2027 in."

Nie alle unies in die land is egter ewe gretig oor die ekwiteitsvennootskap nie, maar as dit nie deurgevoer word nie, sal die spel in die land groot geldelike probleme in die gesig staar.

Nuwe toetsmodel wink

Die toetrede van Ackerley tot Suid-Afrikaanse rugby, sal ook die land se model verander wat betref die aanbied van toetse.

Unies sal voortaan nie meer self verantwoordelik wees vir die aanbied van Bok-toetse nie. Saru en Ackerley sal dié pligte oorneem.

Saru is reeds in 'n gevorderde stadium met die beplanning van die nuwe toetsmodel.

Sake soos om kaartjiepryse te bepaal en kaartjieverkope sal vorentoe slegs deur Ackerley beheer word. Een maatskappy sal die kaartjieverkope hanteer vir al die toetse.

Saru en Ackerley sal volgens die nuwe toetsmodel ooreenkomste met die unies en verskillende stadions sluit waar die toetse aangebied word. Die unies op wie se tuisstadions toetse aangebied word, sal wel steeds finansiële gewin daaruit kry.

Tans voel Saru met tye soos 'n gas by sy eie toetse, sê 'n ingeligte.

As deel van die nuwe toetsmodel, oorweeg Saru onder meer om voorkeur aan die seisoenkaartjiehouers te gee.

Die Bokke vier 'n drie teen die All Blacks op Twickenham.
Die Bokke vier 'n drie teen die All Blacks op Twickenham.

As jy byvoorbeeld 'n seisoenkaartjiehouer by Ellispark is, kan daar voortaan 'n vensterperiode wees waar jy as 'n Johannesburgse seisoenkaartjiehouer kaartjies vir toetse in byvoorbeeld Kaapstad of in Durban kan bekom.

Dieselfde geld losiehouers.

Sekere unies en Saru is vanjaar haaks oor hoe die toetsmodel van 2025 af sal lyk. Saru glo dié geraas sal nie die nuwe toetsmodel ontspoor nie.

Volgens die huidige toetsmodel, wat tot die einde van 2024 geld, bied die plaaslike unies Bok-toetse aan.

Saru hoop steeds om die geskil oor die betaling van sowat R85 miljoen, wat aan die beheerliggaam verskuldig is vir die aanbied van vanjaar se toetse, by te lê.

Sekere unies sal volgens 'n onberispelike bron vanjaar 'n wins van tot sowat R40 miljoen met die aanbied van 'n enkele toets maak.

Die huidige toetsmodel het die afgelope jaar egter tot groot omstredenheid gelei oor die waarborggelde daarvan wat deur Saru vir gasheerregte vereis word.

Saru hoop steeds om die geskil oor die betaling van sowat R85 miljoen, wat aan die beheerliggaam verskuldig is vir die aanbied van vanjaar se toetse, by te lê. Die bedrag kan ná afslag van Saru met tot R30 miljoen verminder.

Saru het reeds vroeër aangebied om van die koste vir die aanbied van die toetse uit sy eie sak te finansier.

Die beheerliggaam het ook advertensieruimte op die veld aan die vier groot unies aangebied. Saru was volgens Rapport se inligting selfs bereid om die advertensieruimte namens die franchises te verkoop.

Die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers meen op hul beurt hulle het 'n sterk saak om nie die waarborggeld te betaal nie.

Hulle sê volgens 2020 se begrotingsmodel, wat deur Saru se hoofraad goedgekeur is, is daar geen waarborgbedrae vir 2024 se Bok-toetse verhaalbaar nie.

Die Bulle en die Haaie moes volgens die aanvanklike waarborggelde van Saru elkeen R15 miljoen betaal om die Bok-toetse teen Ierland aan te bied. Dit is sedertdien met R5 miljoen elk verminder om die geskil te ontlont.

Die Leeus en Westelike Provinsie moet R20 miljoen elk hoes vir die All Black-toetse. Ook dié bedrae is intussen met R10 miljoen elk deur Saru verminder. Die Pumas betaal R10 miljoen vir die Argentynse toets en die Cheetahs R5 miljoen vir die Portugal-kragmeting.

Sover Rapport kon vasstel, het nog net een franchise reeds vanjaar sy waarborggelde vir die gasheerregte van 'n toets betaal.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM