Springbokke

Kolbe-kulkuns!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cheslin Kolbe lê rieme neer doellyn toe nadat hy ’n Engelse verdediger gepypkan het.  Foto’s: Gallo Images
Cheslin Kolbe lê rieme neer doellyn toe nadat hy ’n Engelse verdediger gepypkan het. Foto’s: Gallo Images

Cheslin, jou kulkunstenaar!

Cheslin Kolbe het in sy rugbystewels die waarde van 'n volle Springbok-Bomb Squad, so vol plofkrag is dié pakkie dinamiet.

Dié buksie van 'n Bok-vleuel het gisteraand teen Engeland weer gewys watter ratse ramkat hy is toe hy die Engelse verdedigers oorhoops gehad en een van die mees afgeronde vertonings van vleuel-spel nóg in toetsrugby gelewer het. Hy is met twee drieë beloon en is ná sy ster-vertoning as Speler van die Wedstryd vereer. Hy het ook verskeie kere op die verdediging na vore getree en as skopper telkens groot druk verlig.

Hy het, soos die res van die Bok-span, opnuut gewys: Toetse word op die speelveld gewen, nie in die media nie.

Die Bokke, tjoepstil die hele week, het gisteraand Engeland se grootpraters met 29-20 in 'n opwindende en aksiebelaaide toets op Twickenham in Londen geklop.

Die Bokke het heeltemal te veel strafskoppe afgestaan vir hul afrigter, Rassie Erasmus, om 100% tevrede te wees, maar enige sege in die tuiste van Engelse rugby is 'n soete. Al het hulle die lewe soms vir hulself moeilik gemaak. Dié Bok-span, blyk dit, kan maklik wen selfs al laat hulle dit moeilik lyk!

Engeland het die wedstryd baie sterk begin en 'n mens moet krediet gee waar dit toekom. Ollie Sleightholme se drie in die derde minuut het gelyk soos een wat uit Erasmus se speelboek kon kom.

• JAAREINDTOER | Bokke se toerskedule, spelerprofiele en statistieke

Marcus Smith, die Engelse se briljante losskakel, het stelling ingeneem vir wat almal anders in die stadion gedink het 'n poging tot 'n skepskop sou wees, maar hy het die bal skielik na links geskuif om die Bokke te flous.

Dit het die Bokke 'n rukkie geneem om hul voete te vind, maar toe hulle dit eers doen, het hulle die telbord aan die rol gekry.

Heel gepas was dit Grant Williams wat die gelykmakende drie gedruk het. Die Bok-buksie, wat briljant agter die oond was, is blitsig deur 'n gaping voordat hy die laaste verdediger gesystap het om te druk.

Pieter-Steph du Toit en Grant Williams het uitstekende drieë gedruk wat die Springbokke vroeg op die voorvoet geplaas het teen Engeland.
Pieter-Steph du Toit en Grant Williams het uitstekende drieë gedruk wat die Springbokke vroeg op die voorvoet geplaas het teen Engeland.

Met 'n bietjie meer as 'n kwartier verstreke, het die Bokke die voortou geneem met 'n drie deur Pieter-Steph du Toit nadat skoppe deur die Engelse skrumskakel, Jack van Poortvliet, en daarna Smith afgestorm is. Daarna het Manie Libbok vir Cheslin Kolbe met 'n dwarsskop gevind om dit 19-10 te maak.

Die Bokke se skrum het ook toenemend 'n faktor geraak en Engeland het onder druk daar twee strafskoppe afgestaan.

Maar gee die Rose krediet. Hulle het tussen al die hangskoppe deur ook opwindende rugby gespeel en het met Sam Underhill se drie terug in die wedstryd gekom.

Grant Williams
Grant Williams

Suid-Afrika het die tweede helfte sterk begin, maar 'n drie deur Kurt-Lee Arendse is weens Aphelele Fassi se vorentoe aangee nie toegeken nie.

Die Bokke het ná dié belowende begin 'n paar strafskoppe afgestaan en het hulle lank op die agtervoet bevind totdat Smith aan die Engelse die voorsprong met 'n strafdoel gegee het.

Engeland het aanhou kom, maar die Bokke het verdedig soos die kampioene wat hulle is. 'n Strafdoel deur Handré Pollard het weer aan hulle die voorsprong gegee.

Die wedstryd het iemand nodig gehad om met ietsie spesiaal vorendag te kom en sy naam was Damian de Allende.

Suid-Afrika se groot binnesenter het deur 'n gaping geglip en Kolbe vir sy tweede drie weggestuur. Ná Pollard se doelskop was die Bokke met 29-20 voor.

Enige hoop dat hulle skielik in beheer van die wedstryd sou wees, het egter vinnig verdamp. Gerhard Steenekamp het met 12 minute oor 'n geel kaart vir die span se herhaalde oortredings gekry en die Bokke moes met 14 man vasklou. Dis toe dat hulle die karakter van 'n wêreldkampioen openbaar het.

Dit het gelyk asof die teenspoed hulle pas. Engeland het aanhou kom, maar die Bokke het die momentum in hul guns gedraai deur 'n paar strafskoppe by die afbreekpunte af te dwing.

Vir Engeland het die uurglas skielik leeggeloop en die Bokke het met hul 14 man ironies hul beste rugby van die aand gespeel om die toets maklik te beveilig.

Puntestand

• Suid-Afrika (29) Drieë: Grant Williams, Pieter-Steph du Toit, Cheslin Kolbe (2). Doelskoppe: Manie Libbok (2), Handré Pollard. Strafdoel: Pollard.

• Engeland (20) Drieë: Ollie Sleightholme, Sam Underhill. Doelskoppe: Marcus Smith (2). Strafdoele: Smith (2).

Stephen Nell in Londen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM