Eerste Nasionale Bank (FNB) word binnekort as die Springbokke se nuwe hoofborg aangekondig.
Die bank se naam sal ook voor op die truie van die ander nasionale spanne pryk.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) kan boonop voor die naweek die naam van nog 'n nuwe borg aankondig, het Rapport betroubaar verneem.
Die goue reël by Saru bly dat die borge se name eers aangekondig word wanneer die geld in die bank is.
FNB raak betrokke nadat MTN Dinsdag aangekondig het dat hy sy borgskap van die Bokke beëindig. Hy het die hoofborgskap voor op die Bok-trui in 2017 oorgeneem.

MTN was van plan om langer die Bok-golf te ry, maar is geldelik eenvoudig deur FNB se aanbod oordonder.
Die waarde van die hoofborgskap op die Springbok-trui het in die afgelope ses jaar van R78 miljoen tot R160 miljoen per jaar gegroei, het 'n ingeligte onlangs aan Rapport gesê.
Dis grootliks danksy die sukses op die veld - Siya Kolisi se span het immers die Wêreldbeker-toernooi in 2019 en 2023 gewen - maar ook goeie bestuursbesluite weg van die veld.
Die aanstelling van die Wasserman-groep, 'n internasionale agentskap wat handelsname uitbrei, het ook 'n yslike rol in die stygende waarde gespeel. Hul aanstelling word deur die bron as een van Saru se beste besluite die laaste paar jaar beskryf.
Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van Saru, het die Wasserman-groep in 2023 betrek.

Die waarde van die Bok-broek, met al die borgskappe daarop, het van sowat R44 miljoen per jaar in 2019 tot nou sowat R100 miljoen gestyg.
Saru het boonop verlede jaar volgens Rapport se inligting sowat R20 miljoen van Nike ontvang as deel van die wins wat gemaak is uit die verkope van Bok-truie in 2024.
MTN het 'n waardevolle bydrae gelewer om die Springbokke te laat herleef. Toe hulle in 2017 ingeklim het, was Bok-rugby op 'n laagtepunt en die borge het nie juis tougestaan nie.
By Saru is daar steeds groot waardering hiervoor.
"Die Bokke het twee keer as wêreldkampioene besoek aan MTN se kantoor afgelê, wat die hoogtepunte was van ons vennootskap," sê Mark Alexander, president van Saru.
"MTN het ons elke oomblik ondersteun. Nie net in ons pogings om rugbywedstryde te wen nie, maar ook in ons verbintenis tot die krag van diversiteit wanneer ons saam staan. Toe MTN in daardie donker tye aan boord gekom het, was hul geloof in ons 'n inspirasie.
"Rugby sal nie kan voortbestaan sonder ondersteuning van ons vennote nie. MTN het daar die pas aangegee."
Op sy beurt het MTN gesê die borgskap het vir hulle oor meer as bemarking gegaan.
"Ons wil graag dankie sê aan Saru vir hul geloof in ons en dat ons so lank die hoofborg kon wees. Ons is trots daarop dat ons hul vennote kon wees in 'n goue era van welslae," sê Charles Molapisi, uitvoerende hoof van MTN SA, in 'n nuusverklaring.
"Dit het vir ons oor meer as net bemarking gegaan. Dit het daaroor gegaan om rugby na die mense te neem en die gees van ubuntu te kweek.
"Ons kan nie trotser wees op die uitkoms van ons leierskap en verbintenis tot Suid-Afrikaanse sport nie."




















