Springbokke

Peyper: ‘Bokke vertrou blasers’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Springbokke het volle vertroue in die skeidsregters wat hul wedstryde behartig en probeer voor elke toets dié boodskap aan blasers oordra deur nie 'n oorlas van hulself te maak nie.

Jaco Peyper
Jaco Peyper

"Daar is op Dinsdae voor 'n toets kontak met die skeidsregter, byvoorbeeld oor die vaste fasette, en teen 'n Donderdag het jy weer verdere skeidsregter-vergaderings," verduidelik Jaco Peyper, Suid-Afrika se blaser-breier.

"Maar ons (by die Bokke) doen nie die Donderdag-vergaderings nie. Ons doen dit slegs op 'n Dinsdag. Ons vertrou die skeidsregters. Ek weet ek kan daardie respek aan die skeidsregters oordra. Hulle doen hul werk en ons hoef dit nie vir hulle te doen nie. Hulle moet dan net soos ons presteer. As hy goed genoeg is, sal hy meer wedstryde kry om te blaas. As hy nie goed genoeg is nie, het hy 'n prestasiebeoordeling nes 'n speler of afrigter."

Peyper, wat in 68 toetse en drie Wêreldbeker-toernooie geblaas het, is in Februarie deur Rassie Erasmus, die Bok-hoofafrigter, aangestel.

Hy was verlede week 'n gasspreker by die Vrystaat Sportsterre-dinee in Bloemfontein.

"Die skeidsregter-vergaderings is die belangrikste rede hoekom Rassie my ingekry het, want hy is nie baie goed daarmee nie," skerts Peyper.

Hy het vertel hoeveel anders dit nou is om deel van 'n span te wees.

"As 'n skeidsregter reis jy alleen en het jy nooit 'n tuiswedstryd nie. 'n Skeidsregter het net wegwedstryde," sê hy.

"Die lekker ding is dat my dogters ook 'n nuwe lewe ervaar. Hulle high five vir Cheslin Kolbe en back five vir Sacha (Feinberg-Mngomezulu)."

Volgens hom staan die Bok-kameraadskap uit.

"As jy ooit 'n broederskap in jou lewe gesien het, dan is dit dit. As jy aan een van hulle raak, dan raak jy aan hulle almal."

Hy het ook 'n paar dinge by die Bokke geleer. Een daarvan is dat rugby altyd die belangrikste vir die span bly, maak nie saak wat anders alles aangaan nie. "Die tweede ding wat vir my uitstaan, is dat rugby nie die spelers as mense definieer nie. Wie hulle is, is wat hulle definieer. Rugby is iets wat hulle doen, dit is nie wie hulle is nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM