Sacha Feinberg-Mngomezulu behoort die Springbokke se kroonprins op losskakel te wees.

Dit is die mening van Jaco van der Westhuyzen, wat vir Suid-Afrika in 32 toetse verteenwoordig het van 2000 tot 2006, meestal as losskakel.
Feinberg-Mngomezulu het sy toetsbuiging gister teen Wallis op Twickenham vanaf die plaasvervangerbank gemaak en met die intrapslag 'n strafdoel van meer as 50 m deur die pale gejaag.
"Jordan Hendrikse, wat in die nr. 10-trui begin het, kan self uiters tevrede voel en het Rassie (Erasmus) se vertroue in hom geregverdig," sê Van der Westhuyzen.
"Dit is moeilik om jou toetsdebuut op losskakel te maak, maar nadat hy sy eerste strafskop verbrou het, het Hendrikse goed gevaar om uiteindelik met drie uit vier pogings in die kol te wees.
"As ek egter my geld op 'n perd moet verwed om by Manie (Libbok) of Handré (Pollard) oor te neem as hulle nie beskikbaar is nie, sal ek toe oë vir Sasha kies. Hy is wat my betref ons volgende 10, en hulle moet hom daar grootmaak."
Van der Westhuyzen was ook beïndruk met die Bokke se agterspel, wat teen die einde tot sy reg begin kom het met die jong talent wat in Londen ten toon gestel is.
"Nou is die ideale tyd om nuwe talent te ontgin. Neem byvoorbeeld Edwill van der Merwe; daardie drie van hom was briljant.
"Jou vleuels is daar om drieë te druk, maar dit is ook belangrik dat hulle die res van hul werk deeglik doen en sonder om foute te maak.
"Dit het Edwill gedoen, en dit is waarom hy as Speler van die Wedstryd aangewys is.
"Aphelele Fassi verdien ook 'n pluimpie vir sy vreeslose spel onder die hoë bal.




















