Reis

Reisjoernaal: Alles wat Wallis!

Die Worm’s Head-roete op die Gower-skiereiland moet binne die twee ure van laaggety gestap word, anders sal stappers vir ’n hele paar ure van die Walliese kus afgesny word.
Die Worm’s Head-roete op die Gower-skiereiland moet binne die twee ure van laaggety gestap word, anders sal stappers vir ’n hele paar ure van die Walliese kus afgesny word. (Foto: Gijs Hardeman)

Wanneer Engeland se engtevrees jou gees begin knak en die M25-snelweg om Londen al meer soos ’n verkeersknoop vol wanhopiges begin voel, is daar net een oplossing: ’n Mens moet in jou Ford Ranger klim en wes ry. So maklik soos dit.

’n Ford Ranger is perfek vir ’n Walliese avontuur.
’n Ford Ranger is perfek vir ’n Walliese avontuur. (Foto: Gijs Hardeman)

Ek het in Suid-Afrika grootgeword en was ’n 4x4- en avontuurjoernalis voordat ek in 2012 na die Verenigde Koninkryk verhuis het om hier as ’n skrywer vir Front Runner Dometic (die Suid-Afrikaanse dakrakmaatskappy) te werk.

En hoewel ek my geliefde Afrika moes agterlaat, het my behoefte om in my bakkie te klim en net die pad te vat mý nooit verlaat nie!

Anderkant die Severnrivier – dele daarvan vorm die politieke grens tussen Engeland en Wallis – verloor die lug daardie tam, tweedehandse stank en die horison lyk ook wyer.

Wallis is ’n wilde, reëndeurweekte toevlugsoord. Die soort plek wat ’n mens se siel kan herkalibreer.Die lewe op dié sogenaamde Moddereiland het wel sy hebbelikhede.

Weens ’n geskiedenis van baie oor-en-weer geskreeu en etlike eeue se kreatiewe grensverskuiwings, beskou die vier nasies van die Verenigde Koninkryk wat dié groen land bewoon, mekaar steeds met ’n graad van agterdog wat meestal net vir smouse van tweedehandse motors bedoel is.

As ’n Suid-Afrikaner is dit egter tot my voordeel, want vir die Walliesers is ek net ’n onpartydige individu met ’n aangename aksent en ’n grondige kennis van wêreldklas losskakels soos Barry John, Phil Bennett en Handré Pollard.

Daarom het Wallis in die 13 jaar wat ek al in die VK woon, die plek geword waar ek my siel herlaai wanneer die lewe druk.

Wallis wys haar winterkleure
Wallis wys haar winterkleure (Foto: Gijs Hardeman)

Toe 2025 se winter met sy kenmerkende somberheid inrol, klim ek en die Nederlandse fotograaf Gijs Hardeman in my Ranger.

Ons plan is eenvoudig: Om te kyk hoeveel van Wallis se wildste avonture ons in ’n week kan ervaar – hierdie storie dek die eerste helfte van die reis.

Ons verlaat Londen om vieruur die oggend en sommer gou verdof die stadsligte in die truspieël. Voor ons strek die M4-snelweg soos ’n glansende swart lint in die rigting van die Walliese valleie wat ek liefhet.

Hoewel ek al ’n paar keer vantevore in Wallis was, sou dit Gijs se eerste besoek wees. Ek het vir Gijs voor die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi ontmoet toe hy en 30 ander Hollanders al die pad van Amsterdam af in ’n konvooi van oranje voertuie Kaapstad toe gery het.

Ek het in die Serengeti by hulle aangesluit vir ’n avontuur van stof, leeus en meer as ’n miljoen wildebeeste voordat hulle verder suid getoer het – net om te aanskou hoe hulle span in die eindstryd teen Spanje verloor.

Ja-nee, dit was ’n hengse uittog vir ’n silwer-medalje, maar soos Gijs sê: ’n Trofee was nie die punt nie, eerder die pret wat hulle langs die pad gehad het. Sedertdien het ek en Gijs al ’n paar ervarings gedeel – soos die vlermuismigrasie in Zambië se Kasanka- nasionale park.

Dag 1: ’n Wedloop teen die gety

Ons beoogde roete loop van die Gower-skiereiland (bekend vir sy strande en staproetes) in die suide kloksgewys deur Wallis. Die eerste bestemming lê net wes van die stad Swansea.

Gower-skiereiland se verste punt word Worm’s Head genoem. Ek het op ’n BBC- dokumentêre program van Worm’s Head te hore gekom en ’n paar somers tevore saam met ’n paar vriende daar gaan stap.

Die naam kom van die Oudnoorse ormr, wat draak beteken. En wanneer jy ’n entjie daarvandaan op die kranse van Rhossili staan en vir dié horinkie land kyk, lyk dit regtig soos ’n reuse-akkedis!

Jy kan Worm’s Head net via ’n rotsbank bereik wat slegs vir twee ure alkant van laagwater begaanbaar is. As ’n mens se tydsberekening vir dié kruising uit is, loop jy aandete mis én jy sit afgesny op ’n rotsknoets in die Bristol-kanaal met slegs knorrige seemeeue vir geselskap.

Ek en Gijs hou sowat 30 km van Swansea af in die Rhossili Bay-parkeerterrein stil. In die somer is dié plek die ene draairoomyse en sonbaaiers, maar nou’s dit verlate. Ons verruil ons tekkies vir ordentlike stapstewels, betrag die baai se 5 km lange strand vir ’n oomblik en kies dan koers na die ou kuswagstasie net voor die rotsbank.

Daar laat spat ons oor die mosseloortrekte rotse wat nou bo die water uitsteek tot by Inner Head – die eerste groot “boggel” van die draak se rug. Dan lê nog ’n entjie se geklouter voor voordat ons oor Devil’s Bridge – ’n rotsboog – stap.

Teen die tyd dat ons die mees westelike punt van Worm’s Head bereik, loer die son uit en verlig al die getande krake in die klip. Ons staan hoogs tevrede die 360 °-uitsig in die seesproei en geniet.

Maar nie vir lank nie – die gety kom in! En ons maak dit net-net terug na terra firma soos wat die eerste watertjies oor die rotsbank begin spoel. Teen 2 nm. is ons weer in die bakkie en op pad na Tenby, sowat 110 km verder wes.

Die plattelandse teerpaadjies hierlangs is smal en die rit neem ons sowat twee ure.

As Disney ’n Walliese kusdorpie moes naboots, sou hulle steeds nie Tenby se outentieke bekoorlikheid kon vasvang nie. Dit is ’n droom van pastelkleurige geboue uit die 13de eeu en spierwit strande.

’n Sessie van kajakroei en 'coasteering' aan die kus van St. Catherine-eiland in Tenby. Die  St. Catherine-fort is in die 19de eeu gebou om ’n moontlike inval deur Napoleon te kniehalter.
’n Sessie van kajakroei en 'coasteering' aan die kus van St. Catherine-eiland in Tenby. Die St. Catherine-fort is in die 19de eeu gebou om ’n moontlike inval deur Napoleon te kniehalter. (Foto: Gijs Hardeman)

Ons het ’n coasteering-uitstappie by Tenby Adventure bespreek, maar die weergode is vandag in ’n slegte bui en omstandighede te gevaarlik. Coasteering is ’n kombinasie van rotsklim, swem en van kranse af in die see spring, en op die oomblik lyk die wilde branders en woeste wind kompleet soos ’n buite beheer wasmasjien vol sement – nee, dankie!

Maar Mark Hicks en Tom Horton van Tenby Adventure het duidelik meer soutwater as bloed in hulle are en bied aan om ons op die Salty Dog-alternatief te neem: ’n roeitog met seekajakke by St. Catherine-eiland.

'Coasteering' langs die kus van Tenby sluit in kajakroei soos hierdie en verg versigtig deur grotte navigeer.
'Coasteering' langs die kus van Tenby sluit in kajakroei soos hierdie en verg versigtig deur grotte navigeer. (Foto: Gijs Hardeman)

Ons spring weg by die Tenby-seiljagklub en roei verby die kasteeltoring en versterkte mure wat die Normandiërs in die 13de eeu met hulle inval van westelike Wallis gebou het.

Sodra ons die beskutting van die hawemuur agterlaat, laat weet die Atlanties dadelik wie’s baas. Die deinings is so hoog, ek voel so klein soos ’n kurkprop! Maar Tom en Mark lyk houtgerus en stuur so moeiteloos oor die golwe, ’n mens sou sweer hulle ontspan op ’n lilo in ’n swembad.

Hulle lei ons by seegrotte in waar jy jou bewegings mooi moet beplan om nie deur inkomende golwe teen die plafon vasgeslinger te word nie.

Later neem ons ook beurte om in die ysige see te spring – darem in 5 mm-dik neoprene-duikpakke! Die dag eindig met ’n besoek aan die Tenby Harbour-brouery en die Pembrokeshire Pasty & Pie Company.

Joel Pendell werk agter die toonbank by die Tenby Harbour Brewery.
Joel Pendell werk agter die toonbank by die Tenby Harbour Brewery. (Foto: Gijs Hardeman)

Volgens ’n geraamde koerantuitknipsel teen die muur het koning Charles die pasteie tydens sy besoek as “delicious” verklaar. En ek stem saam: Die pastei én die bier is ’n heerlike verkwikking ná ’n dag van uitgelewer wees aan die elemente.

Verblyf-opsies in Wallis is dikwels aweregs. Ons oornagplek is ’n paar kilometer buite Tenby by Norchard Farmhouse se Apple Camping. ’n Mens kan kies in watter een van die karaktervolle eenhede jy wil slaap – een lyk soos ’n heksehoed, ’n ander is ’n ou vliegtuig.

Ek skop nes in die Apple Express, ’n retrotreinwa waarin die eksentrieke speurder Hercule Poirot tuis sou voel. Dit het ’n stookbad op die voorstoepie waarin ek my tam spiere kan lawe terwyl ek oor die donker heuwels uittuur.

Gijs kies die Igloo-eenheid – ’n snoesige koepel-huisie wat lyk of dit eerder by een van die Suidpool se weerstasies moet staan.

Dag 2: Hiér het die wind tande!

Dag twee begin met ’n laaste plons in die stookbad voordat ons die bakkie laai en sowat 60 km na Whitesands Bay ry. Dit lê aan die noordelike punt van die Pembrokeshire-distrik.

Op vandag se skedule is ’n staproete kuslangs, en dan ’n rustige rit na die VK se heel kleinste stad, St. Davids, en daarna wil ons in Pwllgwaelod uitkom om te roei.

Die weer het intussen verder versleg. ’n Stormsterk wind en reën wat sommer so sywaarts val, begroet ons aan die begin van die staproete.

’n Bordjie in Whitesands Bay, Pembrokeshire, waarsku: “Don’t stand too close to the cliff’s edge.”
’n Bordjie in Whitesands Bay, Pembrokeshire, waarsku: “Don’t stand too close to the cliff’s edge.” (Foto: Gijs Hardeman)

Maar soos enige Wallieser jou sal vertel: Daar bestaan nie ’n ding soos slegte weer nie, net ’n slegte baadjie-keuse.

Ons los die Ranger in die andersins verlate parkeerterrein en durf die roete aan.

Die Pembrokeshire- nasionale voetslaanpad is 299 km lank, maar ons gaan net ’n kort entjie daarvan stap. Dit begin met ’n klim teen Trwyn Harddyn uit en die voetpad is só steil dit laat my kuite les opsê. Die uitsig bo van dié rotskaap af laat ons heel eensaam voel.

In November is hier so baie toeriste, jy kry skaars ’n staanplekkie. Maar vandag is dit net ek en Gijs, die swart kranse en die bulderende, prehistoriese stem van die see. Ons volg die Pembrokeshire-kuspaadjie noord-waarts totdat my slimhorlosie sê ons het nou 5 km gestap, dis tyd om terug te draai.

Die lug is so vars en herinner my opnuut dat die beste dinge in die lewe jou meestal nie ’n sent kos nie – jy gaan dalk net in die proses baie nat word!

Terug by die bakkie maak ons eers ’n welkome potjie tee voordat ons die kort entjie na St. Davids toe aflê. Die Engelse het beslis vreemde standaarde wat ’n nedersetting se status as stad betref.

In Suid-Afrika is die vereiste wolkekrabbers, miljoene inwoners en die gereelde geloei van polisiesirenes in die nag. Maar hier hoef ’n plek net ’n katedraal te hê om as ’n stad beskou te word.

Ek woon in Northampton, ’n dorp met 250 000 mense en selfs sy eie Premierskap-rugbyspan. Maar dis steeds amptelik ’n dorp.

Daarenteen is St. Davids met sy bevolking van skaars 1 850 danksy ’n 12de-eeuse katedraal ’n stad! Goed, dis wel ’n indrukwekkende gebou.

Van St. Davids af is dit nog sowat 33 km noord-oos tot by Pwllgwaelod, ’n hawedorpie met ’n paar huise, en ’n ou smokkelaarskroeg genaamd Sailors’ Safety wat uit 1593 dateer.

Die gawe eienaar gee ons toestemming om ons tente op sy grasperk op te slaan.

Die hawe is lekker beskut en ek en Gijs blaas ons opstaan-roeiborde op en roei uit terwyl die lig van ’n gekneusde pers skakering na ’n oranje gloed verander. Die baai is stil, g’n motorbootenjins wat rumoer, nêrens pieng ’n slimfoon nie... al wat ek hoor, is die golfies se sagte geklots teen die bord.

Dag 3: Sterker as perdekrag?

Teen laatoggend pak ons op en ry ooswaarts na Llanwrtyd Wells, amptelik die kleinste dorp in Brittanje. Ek onthou nog hoe ek as kind die eerste keer van dié plekkie op die TV-program Panasonic World of Sports te hore gekom het – dis die tuiste van die World Bog Snorkelling Championship (deelnemers swem sowat 100 m in ‘n sloot in turfmoerasgrond!)

Ons ontmoet vir Lindsay Ketteringham by die Neuadd Arms-hotel. Hy’s die man in beheer van ’n eienaardige sportkalender wat ’n mens slegs as “tipies Wallies” kan beskryf.

Lindsay Ketteringham (links) het al vir koning Charles ’n bier geskink. Patrick Cruywagen beduie na die bordjie wat dit bevestig.
Lindsay Ketteringham (links) het al vir koning Charles ’n bier geskink. Patrick Cruywagen beduie na die bordjie wat dit bevestig. (Foto: Gijs Hardeman)

Buiten die bog snorkelling-kampioenskap vind hier ook ’n jaarlikse stone skimming-kompetisie plaas, sowel as die Man vs. Horse-marathon.

Laasgenoemde is ’n wedloop waarin veldlopers en perde vir 35 km ver oor baie tegniese terrein meeding.

Met 50 marathons op my kerfstok, klink dié uitdaging al hoe meer aanloklik hoe meer ek aan Lindsay se tuisgemaakte bier teug...

Die son is al byna onder toe ons daar wegkom en ons ry die laaste 17 km van die dag in swaar reën. Ons slaap vanaand by die Chillderness Red Kite Estate in ’n Dark Sky-reservaat. En dit is regtig nou so donker dat toe ek die Ranger se ligte afskakel, ek nie my hand voor my gesig kan sien nie.

Die buitelugkombuis by die Chillderness Red Kite Estate.
Die buitelugkombuis by die Chillderness Red Kite Estate. (Foto: Gijs Hardeman)

Die landgoed is in ’n afgeleë deel van die Kambriëberg en bied ’n paar puik glamping-opsies vir toeriste. Die rooiwou (red kite – ’n nefie van Suid-Afrika se geelbekwou) het eens byna uitgesterf in die VK, maar hulle getalle is deesdae weer sterk danksy plekke soos dié wat ’n rol in die spesie se bewaring speel.

Ek slaap die aand in die Moon Conker, ’n bolronde kamertjie wat tussen bome hang. Gijs kry ’n soortgelyke een, die Earth Conker.

Die Moon Conker is een van die blyplekke by dié landgoed.
Die Moon Conker is een van die blyplekke by dié landgoed. (Foto: Gijs Hardeman)

Om te kan bad, moet ’n mens eers self water uit die rivier aandra en dit op jou houtstofie kook. Dis primitief, maar ook groot pret! Daar’s iets bevredigend aan die gedagte om iewers in die middel van ’n woud in Wallis vir jou eie badwater te sorg terwyl die reën teen jou koperkajuit klater.

Selfs nóg beter is die buitelugkombuis waar ons die aand braai en slaai maak, omring deur die nag se reuke en geluide. Ná skaars drie dae op die pad het ek besef dat die trippie nie maar net nog ’n reis vir my en Gijs gaan wees nie.

Ons het bewys dat ’n mens selfs in die VK ’n sielsverkwikkende ervaring kan hê – solank jy Wallis se kant toe mik!

* In die volgende artikel verruil Patrick en Gijs die Ford Ranger vir bergfietse in die VK se oudste fietspark, en hulle probeer Yr Wyddfa (altans Snowdon) uitklim.

WEET VOOR JY WAAI

Patrick het Wallis in November 2025 besoek. Die pryse hieronder is bedoel om jou slegs ’n idee te gee van wat dinge kos.

AKKOMMODASIE

Norchard Farmhouse (Apple Camping)

Dis by Redberth, naby Tenby. Die verblyfopsies is uiteenlopend, maar die een so oulik soos die ander. Verblyf in ’n kamer vir 2: vanaf £179 (R3 950) per nag.

Pwllgwaelod

Ek het al in die somer (gratis) op die strand geslaap. Maar siende dit winter was het ons vir meer beskutting teen die weer op die Sailors’ Safety-kroeg se grasperk gekamp. Dit het ook niks gekos nie.

The Chillderness Red Kite Estate

Danksy die Kambriëberg voel dié gebied soos ’n ware wildernis. Verblyf in ’n kamer vir 2: vanaf £150 (R3 312) per nag.

AKTIWITEITE

Vir die Worm’s Head-staproete en die opstaan-bordroei by Pwllgwaelod hoef ’n mens nie te bespreek nie – jy kan maar net opdaag, mits jy jou eie toerusting saambring. Wees maar net bedag op die getye by Worm’s Head en moenie by Pwllgwaelod uitroei as ’n aflandige wind waai nie.

Tenby Adventure

Hulle bied verskeie pakkette aan – van coasteering, tot kajakroei en rotsklim. Kyk aanlyn vir pryse.

Ontmoet die skrywer

Patrick Cruywagen is in Suid-Afrika gebore en is ’n voormalige redakteur van die tydskrifte SA4x4 en Land Rover Monthly. Hy het al meer as 50 lande besoek, en is op sy gelukkigste wanneer hy ’n sonsondergang van sy opstaan-roeibord af kan dophou.

Hy woon deesdae in die Verenigde Koninkryk. Ten spyte van die slegte weer beskou hy dit as ’n opwindende nuwe bestemming om te verken.

Volg hom op Instagram en vir Gijs by @travelgijs.