Al het die Springbokke in 1997 twee verskillende hoofafrigters gehad, was dit 'n gevestigde groep wat ondanks die verandering in leierskap steeds op sy aanvallende DNS voortgebou het.
Volgens Pieter Rossouw, wat daardie jaar die meeste Bok-drieë ingeryg het, is dit van die redes waarom sy span 'n ongeëwenaarde 74 drieë (13 toetse) kon druk.
Dié Bokke het veral op hul Europese toer baljaar om uiteindelik die meeste drieë nog sedert hertoelating in 1992 in 'n nie-Wêreldbeker-jaar te druk.
Die naaste wat 'n ander Bok-groep daaraan gekom het, was vanjaar. Rassie Erasmus se span het 57 drieë in 13 toetse gedruk.
Gary Teichmann, die Bok-kaptein in 1997, se span het hul jaar met Carel du Plessis as breier begin, waarna Nick Mallett oorgeneem het.
"Ons het eintlik onder Carel hierdie aanvallende styl begin speel. Dit was 'n lekker opwindende soort rugby. Nick het dit voortgesit," sê Rossouw aan Rapport.
Die voormalige Bok-vleuel se 11 drieë in 11 toetse in 1997 was die meeste deur 'n Bok. Hy het sy Bok-buiging in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in Durban gemaak.
Van die ander voorste driedrukkers daardie jaar was Percy Montgomery (8), André Snyman (7) en wyle James Small (7).
Du Plessis se laaste van sy agt toetse as Bok-breier was in Pretoria in die Drienasies-reeks teen Australië, 'n toets wat sy span met 61-22 gewen het.
Ek sê altyd vir mense dit was 'n groter kick vir my om 'n drie te maak as om 'n drie te druk.
"Toe het Nick oorgeneem, en ons het 'n ongelooflike toer aan die einde van die jaar gehad," sê Rossouw, wat altesaam 21 drieë in 43 toetse gedruk het.
"Een van die redes was omdat ons nogal 'n gevestigde span was en Nick het ook die regte knoppies gedruk om die ouens bymekaar te kry.
"Ons het aangehou om ons aanvallende spel te speel, en dalk een of twee ander skuiwe gemaak."
Rossouw het agt drieë op die jaareindtoer gedruk, wat 'n vierkuns in Parys teen Frankryk ingesluit het.
Dit was ook in een van die laaste toetse in die Parc des Princes, deesdae meer 'n sokkerstadion, nadat begin is om die Stade de France in 1998 as toetsveld te gebruik.
"Dit was 'n baie spesiale wedstryd en dis iets wat jy nie sommer vergeet nie," sê Rossouw, wie se bynaam Slaptjips in sy speeldae was, oor sy vier drieë in die sege van 52-10.
Volgens Rossouw, deesdae hoofafrigter van Paarl Gimnasium, het almal 'n taai tweede toets verwag, omdat die Bokke die eerste een teen die Franse net 36-32 in Lyon gewen het.
"Ons het net 'n ongelooflike wedstryd gehad. Met die eerste drie wat ek gedruk het, het Rassie onderskep en ek het net sy slipstream gevat. Vir die tweede het ek aan die oorkant gaan werk soek en die laaste aangee gevat.
"Die derde drie was eintlik 'n baie mooi drie, waar ek ver gehardloop het. Met die laaste een, het ons 'n beweging vanaf 'n lynstaan uitgevoer en dit was ook 'n baie mooi drie.
"Op die dag het ek nie eintlik die implikasie van die prestasie van vier drieë besef nie.
"Ek sê altyd vir mense dit was 'n groter kick vir my om 'n drie te maak as om 'n drie te druk."





















