Varsitybeker

Ikeys vermorsel Wits in windverwaaide Moederstad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Ikey Tigers se linkervleuel, Ntotoko Makhaza, sit die voet op die versneller in sy span se vermorseling van Wits in Kaapstad. Makhaza het 20 van sy span se punte aangeteken.Foto: Gallo Images
Die Ikey Tigers se linkervleuel, Ntotoko Makhaza, sit die voet op die versneller in sy span se vermorseling van Wits in Kaapstad. Makhaza het 20 van sy span se punte aangeteken.Foto: Gallo Images

Die Universiteit van Kaapstad se Ikey Tigers het Maandagaand in 'n winderige Moederstad vir die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) 'n klipharde skrumles gegee op pad na hul wegholsege met 73-17 in die Varsitybeker-rugbyreeks.

Die Kaapse span was met die rustyd reeds stewig in die saal met 45-0 voordat hul verdediging in die tweede helfte ietwat losgetorring het. Die punte het egter aanhou vloei.

Die Ikeys se skrum was onstuitbaar. Wits se agttal het geswoeg en hulself deurentyd in trurat bevind terwyl die skeidsregter se fluitjie die een strafskop ná die ander aan die oorheersende tuisspan gegee het.

Met die loskopstut Matthew Becket, die haker Keagan Blanckenberg en die vaskopstut Bryan le Roux wat hul eweknie soos 'n sloopgewig getref het elke keer wat die spanne moes sak, is die grondslag vir dié sege voorlangs gelê en Ikeys kon verskeie kere agter die doellyn gaan draai danksy die momentum in die vaste fasette.

Veral Blanckenberg het nie net in dié aspek floreer nie, maar sy plettervatte, inklimspel by die afbreekpunte en kraglopies het Wits heelwat pyne besorg.

Sy ingooiwerk in die lynstane was boonop ook in die kol.

Becket het self sy lyf op die spel geplaas met 'n paar goeie duikslae.

Die Ikey Tigers se binnesenter, Luke Burger, het twee van sy span se drieë teen Wits afgerond. Foto: Gallo Images
Die Ikey Tigers se binnesenter, Luke Burger, het twee van sy span se drieë teen Wits afgerond. Foto: Gallo Images

Agterlangs het die binnesenter Luke Burger en die linkervleuel Ntokozo Makhaza se vermoë op die aanval beïndruk, maar hoe dan anders as jou pak jou teenstanders só sag gemaak het

Burger het deurentyd oor die voordeellyn gekom en ook nie op die verdediging gefouteer nie.

Hy het boonop twee van sy span se drieë afgerond terwyl die regtervleuel Rethabile Louw self ook 'n tweekuns behaal het.

Makhaza se vaart teen die kant het Wits ook na spoke laat gryp. Hy het boonop met sy drie, ses doelskoppe en 'n strafskop die kragmeting met 'n persoonlike bydrae van 20 punte afgesluit.

Die Ikeys sal wel nie tevrede wees met die maklike troospunte - onder meer 'n strafdrie - wat Wits in die tweede helfte kon aanteken nie.

Wits is nietemin ná vier kragmetings steeds segeloos en beklee die laaste plek op die punteleer.

• In die ander wedstryde Maandagaand het die Universiteit Stellenbosch dit vier uit vier gemaak om hul plek boaan die punteleer te verstewig.

Die Maties het met 25-7 met die Universiteit van Johannesburg (UJ) klaargespeel om onoorwonne te bly.

Die Noordwes-Universiteit se Arende was op sy tuisveld gans te sterk vir die Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat en het die kragmeting met 59-14 gewen.

VARSITYBEKERGIDS:

• Bepalings

• Puntelys

• Uitslae