Die Maties het Maandagaand sonder om uit derde rat te kom Wits met 23-12 in hul Varsitybeker-rugbywedstryd in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch geklop.
Met die nat toestande wat konstruktiewe rugby onmoontlik gemaak het, was dit 'n wedstryde wat in rukke en stote gespeel is.
Die Maties het die eerste helfte oorheers, maar het min met al hul geleenthede uitgerig en was met die omdraaislag slegs met 8-5 voor.

Hulle het balbesit en veldgebied gekaap, maar dalk die fout begaan om met 'n nat bal te veel rugby te probeer speel.
Juan Mostert het vir Maties 'n vroeë voorsprong gegee met 'n strafdoel, maar Wits het teruggeslaan met 'n drie deur Kabelo Mokheti nadat hulle herhaaldelik opgetel en gedryf het. Dit was een van min besoeke aan die Maties se kwartgebied in die eerste helfte.
Die Maties het weer die voorsprong geneem nadat Siya Ngubelanga van 'n dryfmaalbeweging afgerond het.
Kabamba Floors, die Maties se afrigter, sou ook in sy noppies gewees het met die skrumwerk, met die stutte Corné Weilbach en Prince Mulea wat hul stemme dik gemaak het. Die Maties het egter min beloning gekry vir hul oorheersing in daardie faset.
Mostert het vroeg in die tweede helfte die Maties se voorsprong tot agt punte laat rek met 'n puik lopie doellyn toe. Daarna was Wits vir lank op die voorvoet sonder dat hulle iets met al die besit in die Maties se kwartgebied kon uitrig.
Die Maties het uiteindelik die druk verplaas en vir De Wet Marais van 'n rolmaalbeweging oorgestuur. Mostert se doelskop het dit 20-5 gemaak met slegs 20 minute oor.
Wits verdien egter baie krediet vir die karakter wat gewys is. Die deur was vlugtig op 'n skrefie oop toe die Matie-flank Louw Nel in die afkoelstoel beland het.
VARSITYBEKERGIDS | Al die bepalings en uitslae
Wits het die geleentheid aangegryp en Marno Grobbelaar het gedruk nadat die besoekers die druk genadeloos voor Maties se doellyn toegepas het.
Dit het Wits in 'n posisie geplaas om die wedstryd in die pylvak nog met 'n verdoelde sewepuntdrie te beklink.
Die Maties het hulself egter reggeruk en die wedstryd baie goed bestuur. 'n Strafdoel deur Mostert met sewe minute oor het die wedstryd buite Wits se bereik geplaas.
Selfs met hul lot verseël, was die Gautengers nog nie klaar baklei nie, maar die Maties was eenvoudig te goed.
Hoewel daar nooit sjampanjerugby gespeel is nie, sal Floors in sy noppies wees, gegewe die nat toestande.
Dit was die Maties se tweede oorwinning agtereenvolgens nadat hulle verlede week ook met die Ikeys op die Groen Myl in Kaapstad afgereken het.
PUNTEMAKERS:
Maties 23 (8): Drieë: Siya Ngubelanga, Juan Mostert, De Wet Marais. Doelskop: Mostert. Strafdoele: Juan Mostert (2).
Wits 12 (5): Drieë: Kabelo Mokheti, Marno Grobbelaar. Doelskop: Tireque Apolles.










