Vir Maties-ondersteuners om die Danie Craven-stadion voor die eindfluitjie te verlaat, is 'n seldsame verskynsel.
Maar só deeglik was die drag slae van 38-24 wat die Maties in Maandagaand se Varsitybeker-halfeindstryd by die Shimlas op Coetzenburg gekry het, dat die Stellenbosse studente besluit het om vroeër as gewoonlik hul sorge te gaan weg drink.
Dit was 'n nagmerrie vir 'n skare wat selde sien hoe hul span stukkend gespeel word.
Die eindtelling moes eintlik groter in die Shimlas se guns gewees het, maar hulle het baie foute begaan. Heelwat daarvan het voortgespruit uit hul toewyding tot uitnemendheid met die bal in die hand. Hul hardlooprugby was met tye uit die boonste rakke en het 'n paar lieflike sewepuntdrieë opgelewer.
Die Shimlas was met die rustyd met 12-7 voor. Gemeet aan al die geleenthede wat hulle gehad het, moes dit baie verder gewees het. Die besoekers het heelwat ongedwonge foute begaan en hul dissipline het hulle ook aanvanklik met tye in die steek gelaat.
Maar toe hulle eers aan die gang kom, was die Shimlas besonder sag op die oog. Hulle speel teen 'n meedoënlose tempo en dit het vir hulle twee mooi drieë in die eerste helfte opgelewer.
Die eerste, in die 15de minuut, was 'n langafstandpoging deur Michael Annies, wat afgerond het ná pragtige agterspel. Asanda Kunene is 'n paar minute later oor om dit 12-0 te maak nadat die Shimlas weer hul lynstaan as aanvallende platform gebruik het.
Die Shimlas het egter ook die deur oopgelaat vir die Maties om in die wedstryd te bly. Die besoekers se skrumskakel, Jandré Nel, het die bal teen sy loskopstut, Ntokozo Hlophe, se rug vasgeskop toe die kans daar was om druk te verlig.
Dit het die Maties in 'n posisie gekry om vir Thys Kitshoff oor te stuur vir hul eerste drie.
Nadat die Shimlas in die eerste helfte neus opgetrek het vir pale toe skop, het Ethan Wentzel ná die omdraaislag die vlae gelig met 'n skop teen die wind in om dit 15-7 te maak. Die wedstryd was egter in die weegskaal toe die Maties se binnesenter, Aydon Topley, vir Ezekiel Ngobeni weggestuur het om af te rond.
Maar dit was asof die druk die beste uit die Shimlas gehaal het. Veel eerder as om in hul doppe te kruip, het hulle aangehou om met vrye teuels te speel.
Die bal is deur menige hande vir Kunene om sy tweede drie te druk en hulle was met 'n bietjie meer as 'n uur verstreke met 29-12 voor ná Neels Volschenk se sewepuntdrie.
Tog was die Maties nie bereid om op te gee nie. Topley het afgerond nadat hulle die druk op die besoekers gelaai het en met tien minute oor was dit 29-17 vir die Shimlas.
Die Maties het aangehou om aan die deur te klop, maar die koeël was deur die kerk toe Zane Bester die bal uit Topley se hande pluk en deur hardloop om onder die pale te gaan afrond.
Puntemakers
Shimlas 38 (12): Drieë: Michael Annies sewepuntdrie, Asanda Kunene (2), Neels Volschenk sewepuntdrie, Zane Bester sewepuntdrie. Doelskoppe: Ethan Wentzel (2). Strafdoel: Wentzel.
Maties 24 (7): Drieë: Thys Kitshoff, Ezekiel Ngobeni, Aydon Topley, Ammaar Burton. Doelskoppe: Juan Mostert (2).






















