Varsitybeker

Shimlas val weer vas in studentereeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Riaan Genis, skrumskakel van die NWU Eagles, laat loop die bal Maandag in Bloemfontein. Foto: Asem Engage - Hannes Naude
Riaan Genis, skrumskakel van die NWU Eagles, laat loop die bal Maandag in Bloemfontein. Foto: Asem Engage - Hannes Naude

Nadat die Shimlas die vroeë pasaangeërs in die Varsitybeker-rugbyreeks was, het hulle Maandagaand 'n tweede agtereenvolgende nederlaag gely.

Die Shimlas het hulle in 'n nat en koue Bloemfontein teen die NWU Eagles vasgeloop. Die Noordwesters het met 32-22 gewen.

Twee Vrystaters, George Lourens (losskakel) en Lourens Oosthuizen (losvoorspeler), is koelkas toe gestuur. Boonop is Blaine Golden (plaasvervanger-stut) met 'n rooi kaart afgestuur.

Op 'n nat veld was dit voor die hand liggend dat die spanne nie regtig hardlooprugby sou opdis nie.

Die Noordwesters het in die eerste halfuur die beste gemaak van die tyd wat hulle in die Shimlas se kwartgebied was. Tino Swanepoel (senter) het twee keer vir die besoekers gaan druk.

Dit het die Potchefstromers met 20-0 laat voorloop. Toe lyk dit of daar 'n dringendheid by die Vrystaters posvat. Voor die rustyd het die Shimlas se senter Jooste Nel twee keer gaan druk. Benewens dié twee drieë het Nel in die eerste helfte beïndruk met 'n paar sterk lopies.

Met die rustyd was die telling 20-12 in die Eagles se guns.

Die Noordwesters het gewen omdat hulle die beste van hul geleenthede gemaak het. En omdat die Shimlas se dissipline hulle gepootjie het.

Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar dat die Potchefstromers die Shimlas klop. Die Vrystaters kon laas in 2017 wen.

Puntemakers:

NWU Eagles 32 (20): Drieë: Tino Swanepoel (2), Strafdrie, Naiden Jaarts. Doelskoppe: Nivan Petersen (2). Strafdoele: Petersen (2).

Shimlas 22 (12): Drieë: Jooste Nel (2), Litha Nkula, Lourens Oosthuizen. Doelskop: Nkula.

• Al die uitslae:

UWK 19, Tuks 51

UJ 29, Wits 24

Ixias 19, Maties 52

Shimlas 22, NWU Eagles 32

Ikeys 33, Madibaz 26

CTA